Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie stabiel, maar kospryse wek kommer

Inflasie het in Junie onveranderd op 4,5% gebly, maar kospryse is besig om skerp te styg. Dis die sewende maand agtereenvolgens dat inflasie onder 5% is, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers.

Die inflasiekoers bly in bedwang, maar kospryse is aan die styg.

Inflasie was in Mei 4,5%, in April 4,4% en in Maart ook 4,5%.

Kosprysinflasie het egter in Junie skerper gestyg, vanaf 3,2% in Mei tot 3,7% in Junie. Dis die hoogste sedert September 2018. Albei syfers is die jaargroei in die mandjie kos en nie-alkoholiese drinkgoed wat SSA meet.

Onder basiese voedselkategorieë is dit brood en graanprodukte wat op die oomblik kosprysinflasie opjaag. Dié produkte is gemiddeld 7,3% duurder as ’n jaar gelede. Vis (6%) en groente (5,7%) word ook skerp duurder, maar vleis is gemiddeld net 0,3% duurder as ’n jaar gelede.

Kerninflasie - wat brandstof, krag en kos uitsluit - het wel gestyg, van 4,1% in Mei tot 4,3% in Junie.

Provinsiale inflasie wissel van 3,9% in die Oos-Kaap, Vrystaat en Noordwes tot 5,3% in die Wes-Kaap. Op die platteland beloop dit 4,3%.

Pensioentrekkers beleef inflasie van 4,5%, dus dieselfde as die oorhoofse syfer.

Die grootste bydrae tot die inflasiekoers is die gemiddelde styging van 4,9% in die koste van behuising en nutsdienste. Dié syfer gaan na verwagting in Julie selfs hoër wees wanneer die verhogings van meer as 13% in munisipale kragtariewe weerspieël sal word.

Volgens SSA het die koste van openbare vervoer die afgelope jaar met 8,3% gestyg. Bus- en treinkaartjies en taxigeld word in Junie gemeet.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het dit verlede week verwelkom dat inflasieverwagtinge sedert 2016 met nagenoeg ’n persentasiepunt verlaag het.

“Die monetêrebeleidskomitee sou wou sien dat inflasie op ’n meer volgehoue grondslag naby die middelpunt van die inflasieteikenband (dus 4,5%) bly.”

Die Reserwebank het verlede week die rentekoers vir die eerste keer sedert Maart 2018 verlaag, hoewel met net 0,25 van ’n persentasiepunt. Geen verdere rentekoersverlaging word voorspel nie.

Die sentrale bank verwag nou inflasie van 4,4% vir 2019 en ’n styging tot 5,4% in die eerste kwartaal van 2020 totdat dit weer tot 4,6% stabiliseer vir die volle 2021.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.