Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie styg skerp (maar dis dalk goeie nuus)

Inflasie is weer binne die Reserwebank se teikenband nadat dit die afgelope twee maande op rekordlae vlakke was.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Woensdagoggend bekend gemaak inflasie het in Julie met ’n hele persentasiepunt tot 3,2% gestyg. Dis teenoor 2,1% in Mei en 2,2% in Junie.

Die stygende inflasiekoers, van rekordlae vlakke af, beteken dalk dat ekonomiese bedrywighede stelselmatig besig is om te normaliseer.

Die heersende baie lae inflasiekoers is dakl op kort termyn goeie nuus vir verbruikers, maar is ook ’n simptoom van groot probleme in die ekonomie. Foto: iStock

Vir verbruikers met skuld kan dit egter beteken dat die Reserwebank huiwerig sal wees om op 17 September die rentekoers te verlaag wanneer die monetêrebeleidskomitee weer daaroor besin.

Tussen Junie en Julie het inflasie met 1,3% gestyg, wat ’n baie hoë maandstyging is.

Die Reserwebank se teiken vir inflasie is 3% tot 6%.

Te lae inflasie is ’n simptoom van die resessie waarin Suid-Afrika verkeer, met kleinhandelaars en diensteverskaffers wat sukkel om sake te doen en pryse moet verlaag of prysstygings moet beperk te midde van afleggings en lae of geen salarisverhogings.

Die rentekoers is vanjaar reeds vyf keer verlaag, met altesame 3 persentasiepunte. Die repokoers (waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen) beloop 3,5% en die prima rentekoers van banke aan verbruikers en ondernemings is 7,25%.

Die middelklas se inflasiekoers is steeds onder 3%, op tussen 2,6% en 2,9%. Die 20% armste huishoudings beleef inflasie van 3,4% en die 10% rykste huishoudings, wat ’n groter persentasie van hul inkomste aan dienste en luukse goedere bestee, beleef 3,5%.

Goedere se inflasie is net 2,3%, maar dienste s’n 3,9%.

Kos en nie-alkoholiese drinkgoed was gemiddeld 4,3% duurder as ’n jaar gelede. Dis in pas met Mei se 4,4% en Junie se 4,2%.

Kerninflasie, wat die prys van kos, brandstof en krag uitsluit, is 3,2%, effens hoër as Junie se 3%. Dit was in April 3,2% en in Mei 3,1%. Dié maatstaf word as ’n goeie aanwyser beskou van pryse wat nie seisoenaal of baie wisselvallig is nie.

Provinsiale inflasie het van 2,9% in Gauteng tot 3,7% in die Wes-Kaap gewissel.

Pensioentrekkers beleef inflasie van 3,4%.

SSA sê die invordering van data het grootliks genormaliseer soos inperkingsmaatreëls verslap is. SSA se inflasiespan is egter steeds nie op volle sterkte werk nie weens gesondheids- en veiligheidsvereistes wat vir kwesbare werknemers – nagenoeg ’n derde van die mense wat gewoonlik van winkel tot winkel beweeg – geld. Personeeltekorte het veral sekere streke geraak en nasionale gemiddeldes is daarvoor verwerk.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.