SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie val tot laagste in 8 jaar

Die inflasiekoers het in Oktober vir die eerste keer in 20 maande tot onder 4% gedaal.

Die koers van 3,7% is ook die laagste in meer as agt jaar, sedert Februarie 2011.

Inflasie was in Oktober die laagste in agt jaar.

Indien die Reserwebank dié daling, vanaf 4,1% in September, as volhoubaar beskou, kan dit Donderdag ’n verlaging in die rentekoers meebring. Die Reserwebank kyk egter nagenoeg 18 maande vooruit na die vooruitsig vir inflasie wanneer hy oor die rentekoers besluit.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was kerninflasie in Oktober onveranderd op 4%. Kerninflasie is ’n belangrike aanwyser omdat dit die wisselvalligste produkte – kos, petrol en krag – uitsluit.

Nog goeie nuus vir verbruikers is dat kosprysinflasie ook gedaal het, vanaf 3,9% in September tot net 3,6% (nie-alkoholiese drank ingesluit).

  • Die grootste rede vir die inflasiekoers is behuising en nutsdienste, wat saam met 4,8% duurder geword en 1,2 persentasiepunte tot die 3,7% bygedra.
  • Die kategorie “diverse goedere en dienste” het 5,7% duurder geword en 0,9 van ’n persentasiepunt tot die inflasiekoers bygedra.
  • Kospryse se 3,6%-styging het 0,6 van ’n persentasiepunt tot die inflasiekoers bygedra.

Die Investec-ekonoom Kamilla Kaplan sê die grootste rede vir die laer inflasiekoers is rekordhoë brandstofpryse verlede jaar. In Oktober 2018 het petrol met R1 per liter duurder geword en diesel met R1,24 tot ’n historiese hoogtepunt van R17,08 per liter 95 oktaan in Gauteng. Dis nou presies R1 goedkoper op R16,08.

Provinsiale inflasiekoerse wissel ook skerp, van 3,1% in die Oos-Kaap tot 4,5% in Limpopo.

Pensioentrekkers beleef dié maand dieselfde inflasiekoers as die nasionale stedelike gemiddelde van 3,7%.

Slegte nuus is dat die twee kategorie armste verbruikers inflasie van hoër as die nasionale gemiddelde beleef, van onderskeidelik 5,4% en 4,8%, ver bo die gemiddelde. Om die waarheid te sê, beleef ses uit die tien inkomstekategorieë inflasie van meer as 3,7%. (Individuele inflasiekoerse wissel ook na gelang van mense se kooppatroon.)

Die inflasiekoers is nou reeds elf maande lank op of laer as 4,5%, die middelpunt van die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, hamer nou al lank daarop dat hy wil hê die koers moet hier geanker wees voordat rentekoerse verder verlaag word. Dis wel in Julie met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag.

Ondanks die lae inflasiekoers verwag 71% van ekonome wat Netwerk24 gepeil het dat die Reserwebank die rentekoers op die laaste vergadering van die monetêrebeleidskomitee vir 2019 onveranderd gaan hou. Daar is vrees dat Moody’s Investors Service Suid-Afrika eersdaags gaan afgradeer, wat die rand erg kan laat verswak en inflasie opdruk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.