Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie verras: Gaan dit rentekoers beïnvloed?

Gaan ’n verrassende daling in die inflasiekoers in April – tot 4,4% – die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) dalk beïnvloed wanneer hy Donderdag oor die rentekoers besluit?

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Inflasie is nou reeds 25 maande gemaklik binne die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6%. Sedert April 2017 en April 2019 het die koers so laag as 3,8% gedaal (in April 2018) en die hoogste vlak was 5,4% (in Mei 2017).

Dis ook die vyfde maand in ’n ry op of onder die middelpunt van die teikenband – 4,5% – ’n mikpunt waarop Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, die afgelope jaar klem lê.

Meer as 75% van al die produkte en dienste wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) meet, was in April minder as 6% duurder as ’n jaar gelede. Die inflasiekoers op dienste is teen 4,6%, die laagste in byna sewe jaar.

Kerninflasie, wat brandstof, krag en kos uitsluit, het vanaf 4,4% in Maart tot 4,1%, in April gedaal.

Herman van Papendorp en Sanisha Packirisamy, ekonome van Momentum Investments, sê dit is uit die inflasiesyfers duidelik dat daar geen inflasionêre druk op pryse in die tam ekonomie is nie.

Kamilla Kaplan, Investec-ekonoom, beaam dit. Sy sê in die lig van die druk op verbruikers is kleinhandelaars net nie in staat om hul stygende kostes deur te gee nie, wat inflasie in toom hou.

Geadministreerde pryse

Die Reserwebank sal egter wel kommer oor die skerp styging in geadministreerde pryse uitspreek. Gemiddeld het dit met byna dubbel die inflasiekoers, teen 8,3%, gestyg. Dit sluit in die petrolprys, tolgeld, kragtariewe, bus- en treinkaartjies, motorlisensies, foonoproepe, skool- en klasgelde en munisipale tariewe.

Ekonome is verdeeld oor of die petrolprys inflasie oor die volgende paar maande gaan opdruk of nié. Die MBK se siening hieroor sal ’n rol in sy rentekoersbesluit speel.

In dié stadium lyk dit asof die petrolprys in Junie met 6c per liter kan daal voordat die koolstofbelasting bygetel word, maar Nedbank se ekonome beskou die olieprys as steeds onder druk.

Lees ook: Petrolprys in Junie: Koolstof-kinkel in die kabel

Daarteenoor reken Kaplan van Investec dat die internasionale prys van Brent-ruolie weens gedempte wêreld- ekonomiese groei en die styging in Amerikaanse olieproduksie nie veel hoër as $70 per vat gaan styg nie. “Dié oorwegings behoort die uitwerking van laer produksie deur die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande en sy vennote op oliepryse teen te werk. ’n Stabiele of laer olieprys, gekombineer met ’n stabiele of sterker rand, sal tot dalings in brandstofpryse lei.”

Pla dit?

Waaroor lê Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, dalk wakker?

  • Johan Willemse van Agrimark Consultants: “Hoe om onafhanklikheid te bewys van politieke druk vir nasionalisering... En of hulle kan volhou met die huidige streng monetêre beleid terwyl die ekonomie al hoe meer sukkel?!”
  • Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir sake- en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand: “Die politieke omgewing in Suid-Afrika en die aanstelling van die nuwe kabinet, want stabiliteit is nodig. Voorts verstryk mnr. Kganyago se (eerste) termyn in November 2019 en daar is steeds geen nuus oor sy moontlike heraanstelling nie.”

Ekonomiese groei

Hugo Pienaar, hoofekonoom van die Buro van Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch, reken die Reserwebank se grootste bekommernis is tans die “hardnekkig swak groeiprestasie” van die ekonomie: “Alle aanduidings is dat die ekonomie in die eerste kwartaal van 2019 wesenlik ingekrimp het. Dit beteken die Reserwebank se vorige (Maart) BBP-groeiverwagting van 1,3% vir 2019 gaan baie moeilik bereik word.”

Die lae inflasie en gebrek aan ekonomiese groei is albei faktore wat ’n laer rentekoers regverdig en tog is daar net enkele ekonome wat dink die rentekoers gaan Donderdag verlaag word.

Prof. Johan Willemse van Agrimark Consultants wys daarop dat Suid-Afrika steeds ’n hoë reële rentekoers handhaaf (dus hoeveel hoër die prima koers bo die inflasiekoers is), selfs terwyl ekonomiese groei taan, werkloosheid styg en inflasie in bedwang is.

Hy is een van twee uit die 13 ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, wat reken Kganyago gaan Donderdagmiddag in Pretoria aankondig dat die repokoers verlaag word, en wel met 0,25 van ’n persentasiepunt.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, reken ook die monetêrebeleidskomitee (MBK) gaan mense met skuld tegemoet kom in die hoop dat dit ekonomiese groei sal aanwakker. Hy sê die termynmark is reeds besig om ’n daling in die rentekoers in te prys.

Die meerderheid van 85% ekonome reken egter dat die MBK die rentekoers eerder onveranderd gaan hou.

Chris Harmse, ekonoom van Rebalance Fund Managers, sê die MBK sal die risiko’s in ag neem wat die rand kan laat verswak: stygende inflasie, die handelsoorlog tussen die VSA en China, en die moontlike afgradering van staatskuld deur Moody’s Investors Service.

Die kwartaallikse projeksiemodel wat die Reserwebank in Maart uitgereik het, het daarop gedui dat die rentekoers voor die einde van die jaar gaan styg. Die groot vraag is of die model nou anders daar sal uitsien gegrond op nuwe data en voorspellings wat ingevoer is.

Die Nedbank-ekonoom Dennis Dykes verwag dat die rentekoers eers in Maart 2020 verhoog gaan word.

    Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Inflasiekoers  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.