Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie was in 2020 laagste in 16 jaar

Die gemiddelde inflasiekoers vir die hele 2020 was net 3,3% - byna ’n persentasiepunt laer as die 4,1% van 2019, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas bekend gemaak.

Dit maak 2020 die tweede jaar in ’n ry dat inflasie laer was as die 4,5%-middelpunt van die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6%. Inflasie was in 2019 gemiddeld 4,1%. Dit was laas in 2016, op 6,3%, gemiddeld bo die teikenband.

Dit was ook die laagste inflasiekoers in 16 jaar - in 2004 was dit net 1,4% - en die tweede laagste in 51 jaar - in 1969 was dit 3%.

k

Die rekordlae inflasiekoerse maak heelwat ekonome en vakbonde soos Cosatu krapperig dat die Reserwebank so lank gedraal het om die rentekoers te verlaag en dit nie met méér verlaag het nie.

Die Reserwebank se eerste rentekoersaankondiging vir 2021 word Donderdag gedoen.

Die inflasiekoers vir die hele 2020 is nou bekend. Foto: iStock

In die lig daarvan dat inflasie waarskynlik vanjaar gaan styg, verwag ekonome dat die rentekoers vir eers onveranderd gelaat gaan word en dalk selfs later vanjaar verhoog gaan word.

Inflasie vir Desember 2020 was net 3,1% - laer as die 3,2% in November en 3,3% in Oktober.

Die lae inflasiekoers is egter vir die gemiddelde huisgesin skrale troos omdat kospryse al hoe vinniger styg. ’n Gemiddelde trollie kos en nie-alkoholiese drankies was in Desember 6% duurder as ’n jaar vantevore – ’n styging teenoor November se 5,8%, Oktober se 5,4% en September se 3,9%.

Kosprysinflasie is nou die hoogste in drie en ’n half jaar, sedert Julie 2017.

Melk en graanprodukte soos mieliemeel het gemiddeld 5% duurder geword, vleis met 7,3% en melk, kaas en eiers met 6,4%.

SSA sê stowebeesvleis was in Desember 12,4% duurder as ’n jaar vantevore. Dit het net tussen November en Desember 2,9% duurder geword – ’n reusagtige maand-tot-maand-sprong.

Kookolie het 11,3% duurder geword oor die jaar, en ook van maand tot maand met 2,9% opgeskiet.

Suiker en lekkers het ook skerp duurder geword. Witsuiker was in Desember 10% duurder as ’n jaar gelede en 1,1% duurder as in November.

Kerninflasie, die maatstaf wat brandstof, krag en kos uitsluit, het onveranderd gebly op 3,3%. Dit word as ’n goeie maatstaf beskou omdat dit seisoenale en eksterne faktore uitsluit.

Provinsiale inflasie wissel van 2,8% in Gauteng  tot 3,7% in die Wes-Kaap. Plattelanders beleef 3,2%.

Pensioentrekkers beleef sowat 3,2%, onveranderd sedert November.

Al dié syfers is op gemiddelde bestedingspatrone bereken en huishoudings se inflasiekoers sal uniek wees gegrond op watter produkte of dienste hulle gebruik.

2020 se syfers

Die hoogste inflasiekoers vir 2020 was 4,6% in Februarie en die laagste 2,1% in Mei. Hierdie syfers is wel minder betroubaar omdat baie pryse nie tydens die strengste fases van die inperking gemeet kon word nie, op sy beurt omdat baie winkels in Maart, April en Mei gesluit was.

Die inflasiekoers was in 2020 vir nege maande agtereenvolgens laer as 4,5%. Die koers was laas in Maart 2017 op 6,1% hoër as die teikenband, en was in 2020 twee keer – in Mei (2,1%) en Junie (2,2%) – laer as die teikenband.

Meer oor:  Inflasie  |  Inflasiekoers  |  Vpi2101  |  Statistieke Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.