Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie vir 2de maand onder 3%

Die inflasiekoers was in Junie net 2,2% – die tweede maand in ’n ry wat dit laer as die Reserwebank se onderste teiken van 3% was. Dis net effens hoër as die 2,1% wat dit in Mei was.

Inflasie is vir die tweede maand in ’n ry laer as 3%. Foto: iStock

Tussen Mei en Junie het inflasie met 0,5% gestyg, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) Woensdagoggend bekend gemaak.

Die lae inflasiekoers is dalk goeie nuus vir verbruikers, maar is ook ’n simptoom van die swak ekonomie. Baie firmas is nie in staat is om verhogings in hul koste aan verbruikers deur te gee te midde van afleggings en druk op salarisse nie.

Dis ook belangrik om uit te wys dat individuele huishoudings se inflasie koers sal wissel na gelang van hul bestedingspatrone. Die meeste inkomstegroepe se inflasiekoers is hoër as die oorhoofse inflasiekoers. Veral die 10% armste huishoudings, wat ’n groter persentasie van hul inkomste aan kos moet bestee, trek swaarder, met inflasie van 3,9%.

Kos en nie-alkoholiese drinkgoed was gemiddeld 4,2% duurder as ’n jaar gelede. Dis teenoor Mei se 4,4%.

Kerninflasie, wat die prys van kos, brandstof en krag uitsluit, het tot net 3% gedaal. Dis teenoor 3,2% in April en 3,1% in Mei. Dié maatstaf word as ’n goeie aanwyser beskou van pryse wat nie seisoenaal of baie wisselvallig is nie.

Goedere se inflasie is net 0,7%, maar dienste s’n 3,7%.

Provinsiale inflasie het van 1,9% in Noordwes en Gauteng tot 2,8% in die Wes-Kaap gewissel.

Pensioentrekkers beleef inflasie van 2,7%.

SSA sê anders as in April en Mei, was die meeste produkte en dienste wel in Junie te koop omdat Suid-Afrika van vlak 4 na vlak 3 van die staat van inperking beweeg het. Nietemin is sekere afleidings genoodsaak deur die feit dat SSA se inflasiespan nie op volle sterkte werk nie weens gesondheids- en veiligheidsvereistes. Afleidings moes ook gemaak word vir maand-tot-maand-veranderinge omdat alle produkte nie in Mei te koop was nie. Die pryse wat wel gemeet is, verteenwoordig tweederdes van die gewig van SSA se inflasiemandjie.

Die Reserwebank het verlede week die rentekoers met 25 basispunte verlaag – die vyfde verlaging vanjaar, wat die totale verlagings vanjaar op 3 persentasiepunte te staan bring. Verskeie ekonome reken daar is nog heelwat ruimte in die lig van die lae inflasiekoers om die rentekoers te verlaag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.