Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Informele sektor ‘ergste getref’ deur Covid-19
Keketso Dan (22) en Bernice Kolobe (23) werk in 'n spaza-winkel.

Die stimuluspakkette en -maatreëls van die regering om te keer dat ondernemings ondergaan en om werkverliese te voorkom, ignoreer die informele ekonomie wat die vatbaarste is vir skok en in die kwesbaarste gemeenskappe bedrywig is.

Brett Hamilton, ’n besoekende lektor in korporatiewe finansiering aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool (USB), sê die waarde van hierdie sektor word uiters onderskat.

Statistieke Suid-Afrika raam die informele sektor het in 2015 sowat 5% van die land se BBP bygedra en het in 2016 sowat 2,6 miljoen mense (17% van alle werkendes) in diens gehad, sê hy in ’n verklaring van die USB.

Deur die informele en die formele sektor as twee afsonderlike rolspelers in die mark te beskou, word swak beleidsbesluite geneem wat nie help om die informele ekonomie te ondersteun en te ontwikkel nie, sê hy.

Hy meen Covid-19 wys duidelik hoe onderling verwant ekonomieë en markte is.

“Suid-Afrika se reaksie tot die pandemie het die onbillike hantering en negatiewe persepsies van die informele sektor skerp uitgelig.”

Hamilton meen omdat daar weinig van die “skadu-ekonomie” bekend is, word die sektor maklik oor die hoof gesien wanneer beleid opgestel word en te maklik geassosieer met onwettighede.

LEES OOK: Derde van SA maatskappye kan vou

“Die siening dat alle informele goedere vervals is, dat alle handelaars onwettige immigrante is en nie aan die regulasies voldoen nie, is anekdoties en in die meeste gevalle onwaar.”

Volgens hom word die informele moetiemark se waarde op tussen R3 miljard en R6 miljard geraam. Daar is sowat 120 000 spazawinkels wat tussen R100 miljard en R200 miljard per jaar tot die ekonomie bydra.

Die township-kitskosmark dra ’n geraamde R80 miljard per jaar by.

Hamilton sê ondanks die omvang van die informele ekonomie is ondernemings in die sektor uiters kwesbaar vir eksterne skokke.

Terwyl formele ondernemings reserwes opbou en toegang tot skuldfinansiering het of versekering kan bekostig teen inkomsteverlies, leef informele ondernemings dikwels van die hand na die mond en moet hulle daagliks oop wees om te oorleef.

Hy sê dit is maklik om te aanvaar dat informele handel slegs weens werkloosheid bestaan, maar so ’n siening onderskat die werklike waarde van die sektor.

“Die informele sektor dien wel as ’n veiligheidsnet vir die formele ekonomie, deur werkloses en mense wat nie indiensneembaar is nie in staat te stel om werk te kry of hul eie ondernemings te begin, ’n inkomste te verdien en armoede te verlig.

“Maar dit verkoop ook goedere en dienste in gebiede wat vir formele netwerke onmoontlik of onaantreklik is.”

Gewoonlik is hierdie ondernemings – soos wasserye, vlooimarkte en straatverkopers – op die platteland of informele gebiede bedrywig. Hulle word as informeel beskou aangesien hulle selde geregistreer is, kontantverkope doen, geen belasting betaal nie en nie enige formele reëlings met hul personeel het nie.

Die sektor verkoop ook goedere op ’n manier wat meer geskik is vir die behoeftes van hul klante, soos voorafverpakte kleiner porsies of enkeleenhede wat goedkoper is.

Parmalat verkoop byvoorbeeld in spazawinkels enkelporsies kaas wat meer as R1 miljard bydra tot sy omset.

Die informele sektor koop ook die meeste van die goedere wat verkoop word uit die formele ekonomie aan en betaal huur.

“Hulle is duidelik ’n belangrike deelnemer aan die waardekettings van selfs groot ondernemings.”

Hamilton sê hoewel die regering die departement van kleinsakeontwikkeling op die been gebring het om die bydrae van kleiner ondernemings tot die ekonomie te verhoog, is dit meestal op formele ondernemings gefokus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.