Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Informele sektor skep 18% van poste

Een uit elke ses werkendes in Suid-Afrika werk in die informele sektor. Dít maak 18% van die totale indiensneming in die land uit, maar tog word informele ondernemings grootliks geïgnoreer wanneer formele beleid en steunmaatreëls bepaal word.

’n Straatverkoper met sy voorraad groente in Soweto. Foto: Felix Dlangamandla

Só sê prof. Frederick Fourie, ’n senior navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Volgens hom moet die sowat twee miljoen informele ondernemings pasgemaakte steun van die regering en private sektor kry om hul deelname in die ekonomie uit te brei vir groter ekonomiese inklusiwiteit.

Sowat 400 000 eenmansake en ondernemings wat meer as een werker in diens het – dit is 20% van informele ondernemings – is verantwoordelik vir die helfte van indiensneming in die informele sektor.

Die jongste beskikbare data, van 2013, wys daar was 850 000 betaalde poste in die sektor. Dit was byna twee keer soveel as die regstreekse indiensneming in die formele mynbousektor in daardie jaar.

Die informele sektor het ook in 2013 meer as 500 000 poste binne een jaar geskep. Sowat 380 000 was nuwe poste in nuwe ondernemings en sowat 150 000 in ondernemings wat uitgebrei het.

Dít verdwerg pres. Cyril Ramaphosa se onderneming by die werkeberaad in 2018 om ’n bykomende 275 000 regstreekse werkgeleenthede per jaar te skep, sê Fourie.

Hy het Donderdag deelgeneem aan ’n bespreking oor die regulatoriese omgewing wat Suid-Afrika nodig het om klein en informele ondernemings te help groei en floreer om ekonomiese inklusiwiteit te verbeter. Dit is aangebied deur die Centre for Development and Enterprise (CDE).

Volgens Fourie neem te min arm mense aktief deel aan ekonomiese prosesse. Die uitdeel van maatskaplike toelaes beteken nie jy sluit mense by die ekonomie in nie.

Suid-Afrika se groei in die bruto binnelandse produk (BBP) is nie arbeidsintensief nie en dit is hoogs onwaarskynlik dat die formele sektor eiehandig die hoeveelheid poste sal skep om die werkloosheidskrisis op te los. Volgens Statistieke Suid-Afrika se uitgebreide definisie van werkloosheid (wat ontmoedigde werksoekers insluit) is die werkloosheidskoers 42%.

Fourie sê mense moenie aan die informele ekonomie dink net as trolliepreneurs en straathandelaars nie. Dit is veel groter en sluit in bouers, handelaars in motorbande en -onderdele, meubelvervaardiging, staalwerke en kinderversorging.

Volgens hom maak miljoene mense in townships ’n lewe uit informele aktiwiteite omdat die formele ekonomie hulle nie kan absorbeer nie, maar hulle kry min tot geen steun van beleidsmakers. Hulle word nie as waardevol geag totdat hulle deel van die formele ekonomie word nie.

Die idee om die informele sektor te formaliseer kom van die Internasionale Arbeidsorganisasie en is ook aanwesig in Suid-Afrika se beleidskringe. Dit is dikwels die hoofoogmerk of voorwaarde vir beleidsteun – veral op munisipale vlak – en behels onder meer verpligte sakelisensiëring en belastingregistrasie.

Septi Bukula, direkteur van Osiba Management wat navorsing oor entrepreneurskap doen, sê dit is ’n lomp manier van dinge doen omdat alle klein ondernemings nie dieselfde is en dieselfde behoeftes het nie. Instrumente en ondersteuningsmaat­reëls moet eerder sektor-spesifiek as generies en algemeen wees.

Bulelani Balabala, stigter van die Township Entrepreneurs’ Alliance, sê dit is duur vir klein en informele ondernemings om al die regulasies na te kom. Baie werk van maand tot maand op ’n streng kontantbasis en word erg benadeel deur laat betaling deur kliënte. Dit beteken baie van die ondernemings het nie ’n goeie kredietgeskiedenis nie en tydens Covid-19 het dít hulle gediskwalifiseer vir die steunmaatreëls wat beskikbaar is.

Fourie stel ’n ontwikkelingsbenadering voor om die informele ondernemings te ondersteun omdat die meeste in elk geval beginner-ondernemings is.

Die spyskaart vir formalisering kan ’n kombinasie wees van beleidselemente van regeringskant af (soos voorsiening van persele, infrastruktuur, elektrisiteit en internetverbindings, finansiering en opleiding) en privatesektorelemente (soos banklenings en verhuringsruimtes).

Die doel moet wees om informele ondernemings te help om volhoubaar en selfstandig te wees, meen hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.