Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Infrastruktuur: Kaap, Joburg het groot agterstande

Suid-Afrika se metropolitaanse munisipaliteite het agterstande met die ontwikkeling van infrastruktuur, deels weens die jare van droogte in onder meer die Oos- en Wes-Kaap en ook die snelle bevolkingsgroei in die land se grootste stede.

moodys
Moody’s het Woensdag ’n reeks verklarings uitgereik oor sy hersiening van die kredietprofiel van munisipaliteite wat effekte in die mark uitgereik het. Foto: Getty Images

Dié agterstande gaan kapitaalbesteding binnekort laat styg. Dit sal weer stede se skuldvlakke verhoog, sê Daniel Mazibuko, ’n assosiaat-ontleder, en David Rubinoff, ’n besturende direkteur van Moody’s Investors Service. Die kredietgradeerder het ’n reeks verklarings uitgereik oor sy hersiening van die kredietprofiel van munisipaliteite wat effekte in die mark uitgereik het.

Sedert 1 Januarie reik Moody’s ’n verklaring uit nadat hy ’n instansie se kredietgraderings hersien het om seker te maak dit is nog toepaslik. Dit verteenwoordig nie ’n graderingsbesluit nie en is ook nie ’n aanduiding dat ’n gradering binnekort gedoen gaan word nie.

Die munisipaliteite Kaapstad, Nelson Mandelabaai, Johannesburg en Ekurhuleni verdien steeds hul beleggingsgradering van Baa3 as hulle met soortgelyke munisipaliteite vergelyk word, sê Moody’s.

Baa3 is die laagste beleggingsgraad en dieselfde vlak as Suid-Afrika as geheel.

  • Kaapstad: Sy bedryfsprestasie is konsekwent goed en die stad het bogemiddelde kontantvloei en matige skuldvlakke. Kaapstad se skuld sal na verwagting wel effens styg weens druk om kapitaalbesteding te verhoog, wat toegeskryf word aan die onlangse waterkrisis. Kaapstad se gediversifiseerde ekonomie en verstandige finansiële en skuldbestuur ondersteun sy kredietprofiel.
  • Johannesburg: Die munisipaliteit se bedryfsinkomste is aan die verbeter. Die stad het ’n groot, gediversifiseerde ekonomie, matige skuldvlakke en “gesofistikeerde finansiële bestuur”. Die stad se kontantvloei is onder druk omdat hy nie al sy inkomste verskuldig ingevorder kry nie.
  • Ekurhuleni: Die Oos-Randse munisipaliteit wat Germiston insluit, het ’n sterk vermoë om inkomste in te vorder, wat hom in staat stel om ’n groot deel van die kapitaaluitgawes kontant te betaal. Sy skuldvlakke is wel besig om te styg weens agterstande met infrastruktuur en bevolkingsgroei.
  • Nelson Mandelabaai: Sy skuldvlakke is relatief laag vergeleke met ander munisipaliteite en hy het ook ’n diverse ekonomie. Dié metroraad sluit Port Elizabeth, Uitenhage en Despatch in en is deel van die hartland van Suid-Afrika se motorvervaardigingsbedryf.
  • Mangaung: Die munisipaliteit wat Bloemfontein en omliggende dorpe bestuur, kry ook lof van Moody’s vir sy “konserwatiewe beheer- en bestuurspraktyke”. Mangaung se kredietgradering is wel twee vlakke onder beleggingsgraad, op Ba2, maar Moody’s reken vergeleke met munisipaliteite van soortgelyke grootte is Mangaung se skuldvlakke laag en sy kontantvloei stabiel. Mangaung bedien ’n medium-grootte ekonomie.
  • Rustenburg: Die stad, wat ook op Ba2 gegradeer word, se skuldvlakke is aan die daal. Die munisipaliteit se likiditeit is swak omdat hy te veel geld vir kapitaalprojekte uit sy eie geld gefinansier het. Nog een van Rustenburg se sterk punte is sy sterk inkomstegroei, ondersteun deur stygings in dienstegelde.
  • Breedevallei: Dié munisipaliteit in die wyn- en vrugteproduserende hartland van die Wes-Kaap het hoë skuldvlakke vergeleke met munisipaliteite van dieselfde grootte. Daarby het dit ’n nou en gekonsentreerde ekonomie. Dis gegradeer op Ba2, twee vlakke onder beleggingsgraad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.