Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Inperking het doel in SA gedien’; WGO verskil glo
Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging.

Die departement van handel, nywerheid en mededinging gee toe dat die nasionale inperking sy doel gedien het en dit tyd is om die ekonomie te heropen.

Maar die advies oor die gestruktureerde verslapping van die inperkingsmaatreëls is strydig met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), wat meen dat die besmettingskoerse eers moet afneem voordat lande kan begin om hul inperkings te lig, het dr. Lionel October, direkteur-generaal van handel en nywerheid, Vrydag aan die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid gesê.

Die komiteelede was egter omgekrap dat Ebrahim Patel, die minister van handel en nywerheid, nie op die aanlyn vergadering teenwoordig was om oor sy departement se hantering van die inperking verantwoording te doen nie. Patel loop onder erge kritiek deur oor die oënskynlike “irrasionele” inperkingsmaatreëls, soos watter produkte verkoop mag word en watter nie.

Die komitee gaan ’n opvolgvergadering reël waarop Patel die onbeantwoorde vrae van die komiteelede kan antwoord, het Duma Nkosi, voorsitter van die komitee, gesê.

Volgens Jaco Mulder, VF Plus-woordvoerder oor handel en nywerheid, het Patel sedert die begin van die inperking nog net een keer voor die komitee verskyn en was hy Vrydag afwesig omdat hy glo ongesteld is.

Mulder meen Patel se “oorreaksie met die inperkingsregulasies en die mikrobestuur van handel, het onherstelbare skade aan die ekonomie aangerig wat tot grootskaalse werkloosheid en hongersnood gaan lei”.

October het nuwe syfers van Deloitte aangehaal wat voorspel dat die ekonomie vanjaar met 9,1% kan krimp teenoor die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se onlangse skatting van -6,3%.

Die departement verwag dat ’n nasionale projek om ventilators vir Covid-19-pasiënte te vervaardig binnekort in produksie sal wees om teen die begin van Julie aan die verwagte vraag te voldoen, het October gesê.

Instellings van die departement van handel en nywerheid slaan toe op ondernemings wat verbruikers uitbuit met buitensporige prysstygings vir gesigmaskers.

Hy het voorbeelde genoem waar die departement die afgelope tyd sekere bedrywe gehelp het om hindernisse te oorkom soos om pluimveeprodusente te help om lewende hoenders oor provinsiale grense te vervoer, om Tiger Brands en Pioneer te help met die invoer van koring, met opeenhopings in die Kaapstadse en Durbanse hawens, en om die maatskappy Evergreen te help om ekstra krag van Eskom vir die toename in die vervaardiging van chirurgiese maskers te kry.

Adcock en Aspen is bygestaan om parasetamol vanaf Indië in te voer, Sasol is gehelp met sy projek om handreiniger uit etanol te vervaardig, en Coca-Cola is bygestaan met sy voorsiening van bottels.

Oor die sakesektor se onetiese en flagrante uitbuiting van verbruikers tydens die inperking, het October genoem dat die Nasionale Verbruikerstribunaal nog sewe klagtes oor prysuitbuiting moet verwerk. Die Mededingingstribunaal het al 13 instemmingsbevele bevestig, met R12,8 miljoen se boetes of skenkings aan die regering se Solidariteitsfonds wat afgedwing is.

Die grootste hiervan is die maatskappy Matus wat R5,9 miljoen as administratiewe boete moet betaal en R5 miljoen aan die Solidariteitsfonds moet skenk.

Die firmas Hennox en Sicuro is ook pas ’n boete van R1,5 miljoen elk opgelê vir buitensporige prysverhogings en moet R200 000 aan die Solidariteitsfonds skenk.

Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Vlak 4
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.