Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inperking: Hofaansoek oor NDZ se besluite

Dis hoog tyd dat die regering verduidelik hoe hy besluit watter inperkingsregulasies geld – en ook wat die mikpunt daarvan is, sê die Sakeliga.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Argief

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga, sê die inperkingsregulasies het ’n enorme effek op die ekonomie – onder meer grootskaalse werkverliese. Tog het pres. Cyril Ramaphosa “nog nie een mediakonferensie gehou om vrae oor die regering se strategie te beantwoord nie”.

“Daar hang ’n sluier van geheimhouding oor die neem en wysiging van inperkingsbesluite.”

Sakeliga meen boonop dat die doelpale keer op keer verskuif word.

“Ramaphosa se standpunt die afgelope Sondag dat die inperking sal voortduur totdat ’n aanvaarbare getal mense ingeënt is, weerspreek die vroeëre rasionaal dat inperkings ’n tydelike stap is en net ten doel het om die vlae van die infeksies af te plat.

“Die vorige standaard, asook die hospitaalkapasiteit en die aantal sterftes, skuif nou om ’n onverklaarbare rede op die agtergrond. Die verskuiwing van die doelpale, sonder deursigtigheid, is nadelig vir die maatskaplike, ekonomiese en konstitusionele orde.”

Sakeliga, wat nagenoeg 17 000 sakelui en ondernemings verteenwoordig, het pas ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring waarin hy die hof vra om die regering te verplig om inligting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) openbaar te maak.

Sakeliga het reeds op 15 Desember 2020 ’n Paia-aansoek aan die departement van samewerkende regering en tradisionele sake gerig, maar dit is afgewys. Die liggaam wil die redes weet vir die staat van inperking in die algemeen, spesifieke vlakke daarvan en ook spesifieke regulasies.

Dlamini-Zuma voer aan haar besluite word deur kabinetsprivilegie beskerm.

In sy hofstukke sê Sakeliga nou álle inligting relevant tot haar besluite kan nie deur privilegie beskerm word nie.

“Sakeliga wil hierdie inligting geopenbaar hê en ontleed sodat dit, indien nodig, in die openbare debat en moontlik regsaksie gebruik kan word om die skade van inperkingsbesluite te beperk.

“’n Mens kan waarskynlik min aan die skade doen wat reeds deur swak besluitneming aangerig is, maar die inligting kan help om skadelike beleide stop te sit en toekomstige skade te verhoed.

“Ondernemings en verbruikers mag en moet weet op watter gronde ondernemings vir uitgebreide tydperke gesluit moes word, hulle nie werk toe kon gaan nie, hul werke verloor het, en selfs waarom hulle – banaal genoeg – nie sekere produkte soos warm hoender mag gekoop of verkoop het nie.”

In sy beëdigde verklaring skryf Le Roux as die redes vir die regulasies nie bekend gemaak word nie, is dit onmoontlik om “tussen gestaafde en ongestaafde posisies, tussen feite en onwaarhede, en tussen geregverdigde en ongeregverdigde ontledings en samesweringsteorieë” te onderskei.

Dlamini-Zuma moet nou aandui of sy die aansoek gaan teenstaan en, indien wel, haar beantwoordende verklaring indien.

Meer oor:  Sakeliga  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Regulasies  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.