Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inperking ‘moet intelligent aangepas word’

Moet die landwye inperking gestop word om die ekonomie te red, maar sodoende mense se lewe in gevaar stel?

ALEXANDRA, SOUTH AFRICA - APRIL 01: A general view
'n Man ontsmet 'n woonstelblok in Alexandra, Johannesburg soos die regering sy veldtog om die Covid-19-pandemie in bedwang te bring, versterk. Foto: Getty Images

Of moet die inperking verleng word om meer mense se lewe te spaar, maar met die vernietiging van die ekonomie as gevolg, wat dalk veel meer mense se dood kan kos weens hongersnood en armoede?

Dis dié debat waarmee wetenskaplikes en ekonome ook in regeringskringe stoei.

Die inperking moet beslis “intelligent aangepas” word om sowel mense se lewe te red en die ekonomie ’n kans te gee om te herstel, meen die onafhanklike ekonoom Mike Schüssler.

Die nasionale inperking het begin toe die plaaslike werkloosheidskoers reeds op 29% gestaan het, en as dit voortduur in sy huidige vorm, kan mense sterf weens die gevolglike hongersnood, waarsku Schüssler.

Daar is ook mense wat tans sterf weens operasies waarvoor hulle gewag het wat nie nou uitgevoer kan word nie.

Hy meen ’n gesonde, intelligente balans is nodig, deur ná die aanvanklike 21 dae sekere bedrywe stelselmatig weer oop te stel vir sake, maar skole steeds toe te hou en streng toegangsbeheer by ouetehuise te handhaaf.

“Dit maak nie sin om die ekonomie heeltyd te beperk totdat die laaste Covid-19-geval aangeteken is nie. As jy noodsaaklike goedere by jou huis kan laat aflewer, waarom nie ook KFC nie?”

Hoe minder ekonomiese bedrywe van voor af weer opgebou moet word, hoe beter. Suid-Afrika behoort te kyk hoe Nederland die pandemie hanteer, asook sekere lande in Asië soos Taiwan, Suid-Korea, Singapoer en Japan, meen Schüssler.

In Nederland is sekere sakesektore wat baie mense bymekaar bring, wel gesluit, soos restaurante, kroeë, casino’s en gimnasiums, asook haarkappers en bestuurskole, maar die bestel van wegneemetes word byvoorbeeld toegelaat.

Hy waarsku historiese syfers van die bruto binnelandse produk (BBP) per capita wys dat verskillende lande se ekonomieë ná die Spaanse Griep van 1918 enigiets tussen twee tot ses jaar gevat het om te herstel.

Hy reken reeds die Suid-Afrikaanse ekonomie kan vanjaar met tot 6% krimp weens die inperking, met grootskaalse werkverliese.

Dit kan Suid-Afrika vier tot vyf jaar vat om terug te keer na 2019 se BBP-syfers per capita, terwyl 2019 reeds ver agter 2011 se syfers is.

Dit kan tot 2025 of 2026 duur voordat Suid-Afrika dus weer terug is by 2011 se vlakke van BBP per capita.

Nazmeera Moola, hoof van Suid-Afrikaanse beleggings by Ninety-one (voorheen Investec Batebestuur), sê ’n mens behoort eers te kyk watter impak die beplande uitbreiding van toetse en siftings oor die volgende week op die siekte se verspreidingskoers in Suid-Afrika het voordat besluit kan word hoe met die inperking voortgegaan moet word.

Dis wel moeilik om goeie redes te kan gee vir die inperking om ná 16 April in sy huidige formaat te laat voortduur, meen Moola.

Sekere bedrywe, waar sosiale distansiëring makliker gehandhaaf kan word, en bedrywe soos die mynbou met goeie gesondheidsorgdienste vir werknemers kan stelselmatig oopgestel word. Dit hang egter alles af van die data oor besmettingskoerse.

Moola waarsku dat massiewe werkverliese ongetwyfeld reeds plaasgevind het sedert die inperking die aand van 26 Maart begin het, dis bloot dat die syfers nog nie duidelik is nie.

Prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van Agrimark Consultants, meen die oplossing vir die keuse tussen ’n langer inperking of die beskerming van die ekonomie, is ’n drastiese beleidsommeswaai weg van staatsbeheer en sosialisme. Markkragte en ondernemerskap moet aangemoedig word, want teen die tempo waarteen staatskuld toeneem is daar nie meer geld vir die sosialistiese benadering nie, meen Willemse.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, beklemtoon in ’n vorige rubriek die inperking is ’n morele besluit om mense se lewe te red. Hy meen wel die regering kon die ramptoestand benut het om ontslae te raak van onvolhoubare staatskoste soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, of om die staatsdienssalarisrekening eenmalig drasties met 10% te sny.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Resessie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.