Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inperking tref vroue veel swaarder

Hoewel meer vroue in noodsaaklike dienste – soos verpleegkunde – werk wat dus in April kon aanhou werk, oorheers hulle ook baie nie-noodsaaklike beroepe wat gesluit was – soos die klerekleinhandel, persoonlike dienste en gasvryheid.

Navorsers hoop dat een positiewe uitvloeisel van die Covid-19-inperking groter buigsaamheid oor werksplek en -ure sal wees. Dit sal sowel mans as vroue help. Foto: iStock

Minstens in April het dit beslis meegebring dat meer vroue werkloos gelaat is as mans en dat dié vroue wat kon aanhou werk, minder ure kon werk.

35% méér vroue as mans het in April glad nie gewerk het nie, toon die nuutste navorsing oor die invloed van Covid-19 op die arbeidsmark (sien inligting hier onder).

In Februarie het 46% van vroue en 59% van mans ’n werk gehad. In April het 36% van vroue en 54% van mans ’n werk gehad. (Dié syfers beteken nie 64% van vroue en 46% van mans was in April werkloos nie. Die peiling is onder ’n verteenwoordigende monster volwasse Suid-Afrikaners gedoen, en daar is baie ander redes waarom mense nie werk nie – van hulle is reeds afgetree of studeer dalk nog.)

Anders gestel: 30% van vroue wat in April ’n werk gehad het, het nie meer in April ’n werk gehad nie, teenoor 20% van mans.

Nagenoeg 2 miljoen uit die 3 miljoen mense wat in April hul werk verloor het, was vroue.

Minder ure gewerk

Onder mense wat hul werk behou het, maar minder ure kon werk, is vroue ook die swaarste getref.

In Februarie het vroue gemiddeld 35 uur per week gewerk. In April het dit tot sowat 23 uur per week gedaal, ’n verlies van 12 uur oftewel 35%.

In Februarie het mans gemiddeld 39 uur per week gewerk, en in April 29 uur, ’n verlies van tien uur, oftewel 26%.

Die navorsers sê daar was heelwat woelinge (churning) in die arbeidsmark tussen Februarie en April. Soos poste op sekere plekke verlore gegaan het, is poste op ander plekke geskep, hoewel heelparty minder poste. 7% van vroue wat in Februarie werkloos was, het in April ’n werk gehad. 16% van mans wat in Februarie werkloos was, het in April ’n werk gehad.

“Waar werkverliese plaasgevind het, het vroue meer gelyk, en waar werk gewen is, het vroue minder voordeel getrek.”

Die navorsers waarsku dat die langtermynuitwerking van die Covid-19-krisis op indiensneming eers later sal blyk – en dat dit sal bepaal of vroue op lang termyn swaarder kry as mans.

“Mense wat hul werk verloor het, of wat weens kindersorgverantwoordelikhede nie kan werk nie, kan sukkel om hul werk terug te kry. Minder ure wat nou gewerk is, kan toekomstige betaling en bevorderingsgeleenthede beïnvloed.

“En korttermyndalings in huishoudelike inkomste kan langtermyn- en moontlik onomkeerbare uitwerkings hê, byvoorbeeld deur die verkoop van bates of hoër skuldvlakke, of deur die uitwerking van wanvoeding op kinders.

“Die risiko bestaan dat van die swaarverdiende verbeteringe in geslagsgelykheid wat oor die afgelope 25 jaar behaal is, omgekeer gaan word.”

Die navorsers sê daar is darem wel ’n ligpunt. Maatskappye is gedwing om mense van die huis af te laat werk – en die sukses daarvan kan tot groter buigsaamheid in werkomstandighede in die toekoms lei.

“Dit sal sowel ma’s as pa’s bevoordeel, maar veral ma’s, vir wie buigsaamheid baie belangrik was soos hulle probeer het om kindersorg en werkverantwoordelikhede te balanseer.”

Versorging van kinders

Wat wel reeds soos ’n paal bo water staan, is dat vroue steeds die grootste las dra wanneer dit by die versorging van hul kinders kom. Dit geld ongeag of vroue moes aanhou werk, en ook ongeag hoe welaf ’n gesin is en of vroue ’n tersiêre kwalifikasie het.

Selfs voor die inperking het vroue meer huiswerk en kindersorg gedoen. In ’n vorige studie is bevind dat vroue 2,2 uur méér bestee aan dié werk as mans, en dit styg tot 3,3 uur méér indien daar ’n kind van jonger as sewe jaar in die huishouding is.

Ander huiswerk

Die navorsers wys daarop dat vroue waarskynlik ook meer gewone huiswerk gedoen het as voor die inperking omdat huiswerkers nie in April kon kom werk nie. Die studie het dit egter nie spesifiek gemeet nie.

Vanaf April moes die meeste vroue, en baie mans, tot vier uur bykomend in hul dag vind om hul kinders te versorg. Skole, kleuterskole en dagmoeders was minstens in April toe, en kinderoppassers was onder die huiswerkers wat nie in April kon werk nie.

73% van vroue en 66% van mans in huishoudings met kinders moes in April meer tyd aan kindersorg bestee.

Vroue het egter proporsioneel meer tyd aan kindersorg bestee.

79% van vroue met kinders moes vier uur méér aan kindersorg bestee as voor die inperking. 65% van mans moes ook vier uur meer daaraan bestee.

Die navorsers wys daarop dat die swaarder las op vroue deels is omdat meer vroue enkelouers is, maar ook dat vroue meer tyd aan kindersorg bestee, selfs in gesinne met twee ouers.

Hulle vind dit egter wel bemoedigend dat verreweg die meeste mans wel meer tyd saam met hul kinders deurbring. Dit kan veranderinge in gedrag meebring omdat mans nou vaardighede aangeleer het wat hulle dalk nie sonder die Covid-19-krisis sou gedoen het nie.

Bron

Die inligting kom uit die Nids-Cram-studie oor die invloed van Covid-19 op die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die National Income Dynamics Study (Nids) Coronavirus Rapid Mobile Survey (Cram), oftewel Nids-Cram, is die grootste nie-mediese navorsingsprojek oor Covid-19 tot nog toe. Dit word deur ’n konsortium van meer as 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite gedoen. 

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Gesondheidsorg  |  Inperking  |  Armoede  |  Nids-Cram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.