Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Invoer derde minder as jaar gelede
Die Covid-19-inperking, asook die afwesigheid van werkers in die Kaapse hawe wat Covid-19 het of in kwarantyn is, ontwrig die hantering van vrag in die hawe. Foto: Transnet

Invoer is nou byna ’n derde minder as wat dit verlede jaar was, wys die handelsyfers wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens Vrydag uitgereik het.

Benewens die enorme druk op verbruikers en ondernemings se beursies, wat baie invoerders waarskynlik huiwerig maak om groot bestellings te doen, is daar ook steeds enorme ontwrigting van verskaffingskettings wêreldwyd.

In Junie is herhaaldelik berig oor oponthoude by die Kaapse hawe weens personeel wat in kwarantyn of selfisolasie geplaas is omdat hulle óf self Covid-19 opgedoen het óf in verbinding was met iemand met die siekte.

Die Ctrack-vervoerindeks wat Donderdag uitgereik is, wys dat die volume vragvervoer in die drie maande tot einde Junie skerp gedaal het, onder meer lugvragvervoer wat met byna 47% geval het.

LEES OOK: Koerierdienste floreer, maar lugvrag ly nog erg

Selfs al is alle handel in Junie toegelaat, met die uitsondering van sigaretverkope, het byna R16,26 miljard se produkte minder die land ingekom as in Mei – ’n maanddaling van 18,9%. Vergeleke met Junie verlede jaar het invoer met R33,94 miljard, oftewel byna ’n derde (32,8%), getuimel.

Die swak invoersyfers was een rede waarom Suid-Afrika in Junie R46,63 miljard meer uit- as ingevoer het. Vir die hele eerste ses maande van die jaar is daar ’n handelsoorskot van R63,07 miljard, teenoor ’n handelstekort van R4,74 miljard in dieselfde helfte van 2019.

Die goeie nuus is dat die handelsoorskot ook toegeskryf kan word aan ’n styging in uitvoer en nie net aan ’n daling in invoer nie. Uitvoer was in Junie 9,5% oftewel R10,13 miljard meer as in Junie 2019. Dit was ook 10,1% meer as in Mei.

Vir die ses maande het uitvoer wel met 2,1% tot R599,83 miljard gedaal, terwyl invoer met 13% tot R536,76 miljard gedaal het.

Die grootste verandering in uitvoer tussen Mei en Junie was die 50%-styging in die uitvoer van voertuie en onderdele. Die grootste verandering in invoer was die daling van 64% in die invoer van onderdele vir toerusting.

Mei se handelsoorskot is opwaarts aangepas tot R19,69 miljard.

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Uitvoere  |  Covid-19  |  Invoere  |  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.