Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Is daar lig in die tonnel?

Die aankondiging dat die inperking van die ekonomie op 17 Augustus tot vlak 2 verlaag word, het ’n sug van verligting in baie sektore meegebring.

Ulrich Joubert Foto: Salomé Fischer

Dit was veral in die tabak- , drank- en in ’n mate in die toerisme- en gasvryheidsbedryf die geval.

Die hoop bestaan dat die tabak- en drankbedryf taamlik vinnig kan herstel nadat verbruikers sedert einde Maart blootgestel was aan produkte van swak gehalte teen buitensporige pryse. Terselfdertyd sal die instansies en persone wat tydens die verbod op die wettige handel in tabak en drank, winsgewend onwettig sake gedoen het, dit nie sommer goedsmoeds laat vaar nie – selfs al verswak hul winsgewendheid.

In die algemeen sal verbruikers wat onder enorme finansiële druk verkeer, eerder weer die wettige produkte teen meer redelike pryse koop. Die belastinggaarder slaak beslis ook ’n sug van verligting omdat die wettige handel in tabak en drank nou weer ’n bydrae tot die staatskas kan lewer.

Terwyl die landsgrense egter gesluit bly, is daar steeds ernstige kommer oor die finansiële volhoubaarheid van die toerisme- en gasvryheidsbedryf.

Hoeveel van die ondernemings in hierdie bedrywe kan oorleef totdat die internasionale grense uiteindelik weer oopgestel word?

In Europa was die aanduidings dat die Covid-19-pandemie vroeër in die jaar sy piek bereik het en het mense tydens hul somervakansie na die strande in die suide van Europa en die Balkanlande gestroom. Met hul terugkeer neem die infeksiekoers in so ’n mate toe dat beperkende maatreëls weer eens ingestel word om die verspreiding te beperk.

Die uitdaging is om die infeksies te beheer sonder om die ekonomiese herstel wat sedert die aanvanklike inperking weer aan die gang gekom het, nek om te draai.

In die VSA met sowat 5,5 miljoen infeksies en meer as 171 000 sterftes, is die pandemie steeds sterk aan die gang. In die wêreld het meer as 22 miljoen mense al die virus onder lede gehad en was daar meer as 780 000 sterftes.

Weens die vrees dat ons ’n tweede vlaag infeksies kan kry, sal lande versigtig wees om internasionale reise sonder enige beperkings toe te laat.

Reiskoste per vliegtuig sal duur bly en lang reise na onder meer Suid-Afrika benadeel. Internasionale toerisme na Suid-Afrika sal eers op lang termyn weer die vlak behaal van voor die pandemie – en toerisme is een van dié sektore wat ons kan help om die ekonomie weer op dreef te kry.

Die virus is steeds aanwesig en sal nog jare lank met ons wees. Een of ander inentingsmiddel kan in die tweede helfte van 2021 wel beskikbaar wees, maar hoe doeltreffend dit teen die blykbaar ewig muterende virus sal wees, moet nog gesien word.

Internasionaal het lande met groot stimuluspakkette en laer rentekoerse op die ekonomiese invloed van die pandemie gereageer. Suid-Afrika het nie die luukse om groot stimuluspakkette aan te kondig nie weens die kommerwekkende stand van ons staatsfinansies. Gelukkig het ons ruimte gehad om rentekoerse te midde van dalende inflasiesyfers dramaties te verlaag, maar lae rentekoerse alleen sal nie ekonomiese groei noemenswaardig stimuleer terwyl al die ander hindernisse in die pad van herstel staan nie.

Gegewe die benouende situasie waarin die plaaslike ekonomie hom voor die inperkings bevind het, asook die ekonomiese verwoesting wat die inperkingsmaatreëls tot gevolg gehad het, moet daadwerklike stappe gedoen word om die ekonomie te herstel. Die sentrale, provinsiale, maar veral plaaslike regering moet die omgewing skep waarbinne die private sektor gemaklik voel om te investeer, winsgewend sake te doen en mense in diens te neem.

Die oormatige inmenging van die staat op alle terreine van die ekonomie moet gestaak word. Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake meen dat die regering nie beplanning doen soos onder apartheid nie, maar vergeet blykbaar dat ekonomiese werklikhede, soos in die verlede, nie geïgnoreer kan word nie.

Dieselfde geld die president met sy skerp parlementêre reaksie oor regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Indien ons wil hê dat álle mense in die land bevoordeel moet word deur ekonomiese vooruitgang, moet ons sorg dat daar wel ekonomiese groei is. Die politieke inmenging in die werking van die ekonomie beperk die groeipotensiaal van die land en indiensneming. Sonder groei in werkgeleenthede, kan mense, swart, bruin of wit, nie baat vind by die welvaart van die land nie.

Kan die huidige regering die wanfunksionele munisipaliteite en staatsbeheerde ondernemings regruk? Kan hulle die verwaarlosing van hospitale en die infrastruktuur soos paaie, watervoorsiening en riolering omkeer? Kan hulle die onderwys- en opleidingstandaarde tot aanvaarbare vlakke verbeter?

Kan hulle álle misdaad onder beheer kry en ons grense bewaak?

Kan hulle ’n beleggings- en sakevriendelike omgewing skep? Kan hulle die groeipotensiaal van die land van die huidige sowat 1% tot die 2%- tot 2,5%-vlak van 1994 herstel?

Ernstige besinning is nodig, anders sal die land op die glybaan van powere groei, groter werkloosheid, armoede, maatskaplike onrus en misdaad voortploeter en sal die opgeleide en hardwerkende kinders en kleinkinders van hierdie land hul heil buite die landsgrense gaan soek.

Die onus vir hierdie besinning oor beleid berus, aanvanklik, vierkantig op die skouers van die regering.

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Toerisme  |  Sakesiening  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.