Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Is jou glas ook halfvol vir 2019?
Verbruiker
Die meeste verbruikers is betreklik optimisties dat die Suid-Afrikaanse ekonomie, en hul eie huishouding se geldsake.

Verbruikers is betreklik optimisties oor die jaar wat voorlê, maar voel steeds nie dis ’n goeie tyd om duur artikels soos motors en meubels aan te skaf nie.

Die indeks van verbruikersvertroue van FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek het in die vierde kwartaal van 2018 onveranderd op 7 punte gebly. Dít nadat dit in die derde kwartaal met meer as twee-derdes, van 22 tot 7 punte, getuimel het.

Verbruikersvertroue is ’n belangrike aanwyser vir die ekonomie omdat onseker verbruikers hul beursie styf toehou en huiwerig is om skuld aan te gaan.

Verbruikersbesteding verteenwoordig meer as twee-derdes van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk en verbruikersvertroue is dus ’n vroeë aanwyser van ekonomiese groei.

Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, beklemtoon dat verbruikersvertroue begin 2018 eintlik verstommend hoog was. Ondanks die skerp daling in die derde kwartaal is die indekspunt van 7 steeds meer as drie keer hoër as die langtermyngemiddelde van 2 punte. Dis sedert die indeks in 1994 gemeet word.

Die indeks probeer drie dinge peil: Verbruikers se verwagting oor die ekonomie en hul eie geldsake oor die volgende 12 maande, en of hulle dink dis ’n goeie tyd om duursame goedere (motors, meubels, huishoudelike toestelle en elektronika) aan te skaf.

Die meeste verbruikers is betreklik optimisties dat die Suid-Afrikaanse ekonomie, en hul eie huishouding se geldsake, oor die volgende 12 maande gaan verbeter. Eersgenoemde subindeks het van 9 tot 14 punte gestyg, en laasgenoemde van 13 tot 15.

Dit is tans vir verbruikers ’n slegter tyd as voorheen om duursame goedere aan te skaf – dié subindeks het van 0 tot -7 gedaal. Gegewe dat baie mense tradisioneel oor Swart Vrydag en Kersfees juis meubels, motors of elektronika aanskaf, verklaar dié gebrek aan vertroue dalk die teleurstellende prestasie van kleinhandelaars in die laaste kwartaal van 2018.

Volgens inkomstevlak

As verbruikersvertroue volgens inkomstevlak ontleed word, blyk dit veral laerinkomsteverbruikers se vertroue het die meeste gestyg, hoewel dit swak bly. Dis mense wat minder as R3 000 per maand verdien. Hul vertroue het van 20 in die tweede kwartaal tot -8 in die derde kwartaal geval, maar toe tot -1 gestyg in die vierde kwartaal.

Die vertroue van mense in die middelinkomstegroep (R3 000 tot R14 000 per maand) word op 10 gemeet en dié van hoërinkomstegroepe (meer as R14 000 per maand) op 16. Dit het kwalik geroer tussen die derde en vierde kwartaal.

Vooruitsig vir 2019

Matikinca-Ngwenya sê meubel- en huishoudelike toestelle was een van die kleinhandelkategorieë wat in 2018 die beste gevaar het, deels omdat handelaars aggressiewe afslagveldtogte gehad het en danksy die positiewe sentiment aan die begin van 2018 – die gevolg van sogenaamde Ramaforie nadat Cyril Ramaphosa president geword het. Dit gaan egter nie in 2019 ewe goed vaar nie.

Die verhoging van die prima rentekoers met 0,25 van ’n persentasiepunt einde November, tesame met die opmerklike verswakking in die rand sedert Maart 2018, sal die bekostigbaarheid van duursame goedere in 2019 negatief beïnvloed.”

Verbruikersvertroue gaan dalk 2019 effens sterker begin, reken Matikinca-Ngwenya. Die peiling vir die vierde kwartaal is van 23 Oktober tot 7 Desember gedoen, dus toe brandstofpryse nog hemelhoog was – voor Desember en Januarie se skerp dalings. Van November tot Januarie het 95-oktaan-petrol met R3,07 per liter goedkoper geword, “wat die koopkrag van verbruikers kan ondersteun, waaruit die verkope van nieduursame goedere (soos kos en drank) en halfduursame goedere (soos klere en skoene) veral kan voordeel trek”.

Petrol gaan na raming in Februarie met nagenoeg 13c per liter styg indien die rand en internasionale oliepryse op huidige vlakke bly. Diesel gaan wel goedkoper word.

Sterker ekonomiese groei kan in 2019 verbruikersvertroue ’n verdere hupstoot gee. Hoewel steeds tam – verwagtinge wissel tussen die Wêreldbank se 1,3% en Reserwebank se 1,7% - klop dit darem 2018 se verwagte groei van sowat 0,8%.

Die grootste risiko’s vir ekonomiese groei, volgens Matikinca-Ngwenya, is die dreigende afgradering deur Moody’s Investors Service en beurtkrag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.