Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Is jy ’n kansvatter, of kry jy maklik koue voete?

Ekonome het ’n tawwe job. Wanneer dinge goed gaan, is ons taak om moontlike slaggate en struikelblokke uit te wys.

Johan Fourie

Só sou ’n mens dalk in die goeie tye die ongewilde advies moes gee dat die Reserwebank die repokoers moet verhoog sodat die ekonomie nie oorverhit en inflasie aanhits nie.

Of dat die gewone publiek nie al sy bates in ’n snelgroeiende en riskante aandelemark stort net om als te verloor wanneer dinge suid draai nie.

Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer dinge sleg gaan, is ekonome se taak om die silwer randjies uit te wys sonder om realisme in te boet.

En gegewe die powere prestasie van Afrika se tweede grootste ekonomie die laaste paar jaar, raak ons taak al hoe moeiliker. Daar is eenvoudig net al hoe minder silwer randjies.

Maar die geskiedenis gee ’n mens dalk perspektief. Dié wat die 1980’s kan onthou, sal weet dat dinge voorheen ook redelik donker was. Tussen 1982 en 1993 het die Suid-Afrikaanse ekonomie met minder as 0,5% per jaar gegroei. Die politieke toekoms van die land was in die weegskaal. Dié wat kón, het hul kapitaal landuit geneem. Lees deur ’n paar ou koerantopskrifte en die geldmaakgeleenthede lyk redelik dun gesaai.

Ons vergeet ook maklik die krisisse tydens die goue jare van Mandela of Mbeki. Die Asiese krisis van 1998 het rentekoerse tot 24% laat styg.

Die rand het in 2000 en 2001 met 12% en 19% teen die dollar gedaal, wat die regering genoop het om in 2002 alle nuwe beleggings in die buiteland deur Suid-Afrikaanse finansiële instellings te bevries.

En daar was die kleinbankkrisis van 2002 en 2003, met beleggers in Saambou wat baie spaargeld verloor het.

Maar ten spyte van hierdie kwetsings was daar geleenthede vir geldmaak. Gróót geldmaak. Naspers het in 2001 ’n paar miljoen in ’n onbekende Chinese firma ingestoot. Min mense sou tóé kon voorspel dat Chinese rekenaarspeletjies vir die grootste enkele inspuiting in die beursies van Suid-Afrikaners sou sorg.

’n Paar manne het in Stellenbosch hul moue opgerol en ’n bank gestig wat die hele sektor sou vernuwe. In Pretoria het Louis van der Watt se Atterbury die geleenthede van grootskaalse verstedeliking betyds raakgesien. Daar is baie ander voorbeelde.

As die afgelope drie dekades se geskiedenis ons iets leer, is daar ook geleenthede in hierdie wispelturige tye. Dis tydens resessies dat die kaf van die koring geskei word.

Dawie Roodt skryf onlangs oor Suid-Afrika se geweldige uitdagings. Daar is inderdaad baie goed wat kwel, insluitend ’n swak onderwysstelsel, misdaad wat handuit ruk en wanfunksionerende staatsinstellings. Dit help beslis nie dat die ANC se interne politieke struwelinge so openbaar geveg word nie, ten koste van stabiliteit en groei.

Roodt se advies is dat ons so min as moontlik belasting moet betaal, nie ekstra werkers in diens moet neem nie, en so min as moontlik van die staat afhanklik moet wees. Dis sekerlik goeie advies. Sy laaste sin lui: “En wanneer jy geld maak, neem dit landuit!”

LEES OOK: Dawie Roodt: Wat jy moet doen ná nagmerrie-week

Miskien het hy reg. Miskien sal die opbrengs in die buiteland meer stabiel wees. En miskien is die land op pad na rommelstatus, wat ’n beduidende depresiasie van die wisselkoers sal beteken, duurder skuld, en verdere probleme vir ’n reeds onderdrukte begroting.

Maar as die afgelope drie dekades se geskiedenis ons iets leer, is daar ook geleenthede in hierdie wispelturige tye. Dis tydens resessies dat die kaf van die koring geskei word.

Ondernemings wat resessies oorleef, so wys talle studies ons, het noodgedwonge ’n resep ontwikkel wat hulle in staat stel om te floreer wanneer die ekonomie weer begin kop optel. En dis juis beleggers wat in hierdie slegte tye belê wat ryklik beloon word vir hul aptyt vir risiko.

“Wie nie waag nie, wen nie” is om ’n rede ’n cliché. Die meeste van ons sal die veilige toevlugsoorde verkies, en probeer om ons spaargeld te verskans teen die risiko’s van ’n ANC-regering met ’n gesplete persoonlikheid.

Maar die kansvatters sal waag, belê in entrepreneurs wat ’n depresiërende wisselkoers en die ander uitstaande kenmerke van Suid-Afrika tot hul voordeel kan aanwend om ’n suksesvolle sakeryk op te bou. En baie van hierdie kansvatters, só wys die geskiedenis ons keer op keer, sal wen.

  • Johan Fourie is medeprofessor in die ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Johan Fourie  |  Resessie  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.