Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ja, sny staatslone, beveel kommissie aan

Die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK) het hom aan die kant van die regering geskaar in die stryd rondom die sny van die staat se salarisrekening.

Michael Sachs, waarnemende voorsitter van die Finansiële en Fiskale Kommissie.

Die FFK se navorsing het gewys die staat se salarisrekening as persentasie van besteding het tot bokant internasionale maatstawwe gestyg, en daar is dus regverdiging vir die konsolidasie van staatsdienssalarisse, het die adviesliggaam Dinsdag gesê.

Die minister van finansies behoort die salarisrekening oor alle regeringsvlakke heen te hersien, en besteding aan nie-kernfunksies te verlaag, is twee van die FFK se aanbevelings.

Dit is deel van ’n omvattende lys aanbevelings oor hoe die FFK meen die regering die begroting vir 2022-’23 in reaksie op die invloed van die Covid-19-pandemie kan saamstel.

Van die ander aanbevelings

Geslagsgelykheid: Die departement van vroue, jeug en mense met gestremdhede behoort saam met die departement van beplanning, monitering en evaluering ’n sterker rol saam met die nasionale tesourie te kry om begrotings saam te stel wat geslagsgelykheid oor alle regeringsvlakke heen bevorder.

Welsynstoelaes: Ander soorte middeletoetse (om vas te stel wie kwalifiseer om welsynstoelaes te kry) moet ondersoek word sodat welsynstoelaes by die mense wat dit werklik nodig het, kan bereik. Die spesiale Covid-19-inkomstetoelae van R350 behoort as ’n basiese inkomstetoelae uitgebou en ontwikkel te word, en die minister van finansies behoort te ondersoek hoeveel dit kan kos.

Ekonomiese groei: Provinsiale en plaaslike regerings se ekonomiese groeiplanne moet in ooreenstemming gebring word met die nasionale ekonomiese herstelplan, en daar moet geld in volgende jaar se begroting opsygesit word daarvoor. Die begroting behoort meer aktief en spesifiek te wees om plaaslike inhoud en plaaslike aankope te bevorder en aan te spoor.

Staatsbesteding: Die minister van finansies moet volhou om ondoeltreffende besteding hok te slaan, deur begrotings waar onderbestee word en waar prestasie swak is te sny. Duplisering moet uitgewis word, soos om staatsdepartemente en openbare entiteite saam te voeg of te verklein.

Die Covid-19-pandemie het die skrille ongelykhede in Suid-Afrika, asook die onvoldoende leierskap en toesig ontbloot, het Michael Sachs, waarnemende voorsitter van die FFK, Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê waar die aanbevelings bekend gemaak is.

Die pandemie vereis dat die regering sy fiskale beleid hersien, meen Sachs. “Dit het die ergste resessie tot nog toe in die land se geskiedenis ontketen, en die ergste ongelykhede ontbloot.”

Munisipale krisis

Munisipaliteite se inkomstestrome is aansienlik ontwrig, en munisipaliteite het al dieper in die skuld geraak by Eskom en waterrade weens inwoners wat ook dieper in die skuld is en nie hul rekeninge kon betaal nie.

Dr. Mkhululi Ncube, bestuurder van die FFK se eenheid oor plaaslike regering, gee toe munisipaliteite was al voor die pandemie in ’n erge verknorsing en Covid-19 het dit net vererger. Tot 46% van munisipaliteite het reeds voor die pandemie ongefinansierde begrotings gehad.

Hy wys op watervoorsiening wat erg verswak het, juis in die tyd waarin die vraag na water weens die pandemie toegeneem het.

Wat van staatskuld?

Oor of die FFK se aanbevelings die nasionale tesourie se bestaande trajek vir skuldvermindering kan ontwrig, het Chen Tseng, navorsingskenner by die FFK, gesê hy glo nie so nie, want daar is maniere waarop die tesourie skuld kan herfinansier of sy portefeulje van langtermynskuld kan aanpas en terugbetalings kan uitstel.

Die FFK se klem is nie net op die blote syfers in rand van staatsbesteding nie, maar watter waarde uit die besteding gekry is en hoe doeltreffend die besteding is, asook die vermenigvuldigingseffek, het Tseng verduidelik.

Dit is waar staatsbesteding baie kan verbeter, want die navorsing van die FFK wys dat die doeltreffendheid en vermenigvuldigingseffek van staatsbesteding al sedert die internasionale geldkrisis van 2008 en 2009 stelselmatig afgeneem het.

Die staatskas en ekonomie is deur ’n aantal skokke geraak, sê Sachs. Die pandemie is ’n negatiewe skok, maar die huidige styging in grondstofpryse is ’n positiewe skok, wat inkomste in die private sektor en gevolglik belasting sal verhoog. Maar dit is net tydelike toestande wat niks verander aan die steeds swak strukturele fiskale tekort nie, waarsku Sachs.

Die opbloei in kommoditeitspryse kan help om ’n skuldkrisis te vermy of uit te stel, maar die fiskale wanbalans is steeds daar. Sachs beklemtoon dat dit nie beteken die regering hoef nie besteding te sny of sy skuld te verlaag nie. Maar hy meen daar word nie genoeg beplan oor hoe om besteding te verbeter nie. Hy waarsku teen die invloed van besnoeiing aan byvoorbeeld die onderwysbegroting, waar dit tot stakings kan lei en swakker onderwysresultate, veral in armer provinsies en armer skole. Dieselfde negatiewe gevolge in dienslewering sal gesien word by ander sektore en departemente waar besteding besnoei word.

Meer oor:  Staatsamptenare  |  Vakbonde  |  Staatskuld  |  Staatskas  |  Munisipaliteite  |  Loondispuut  |  Staatsdienslone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.