Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jammer, Tito, staatskuld ‘gáán 100% van BBP bereik’
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Getty Images

Staatskuld gaan 100% van die bruto binnelandse produk (BBP) bereik, al dink die regering hy kan dit op mediumtermyn stabiliseer. Dit beteken daar wag moeilike jare op Suid-Afrikaners tot en met die 2030’s.

Só meen prof. Philippe Burger van die Universiteit van die Vrystaat, wat vandeesweek ’n navorsingstuk vir die Centre for Development and Enterprise oor die dreigende ramp in staatskuld geskryf het.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy aanvullende begrotingsrede in Junie gesê sonder enige ingryping sal staatskuld as persentasie van die BBP tot 141% opskiet teen 2028.

Die regering is egter oortuig daarvan dat sy ingryping sal werk en dat dit staatskuld teen 2023 by 87% van die BBP sal kan stabiliseer.

“Dit is na my mening glad nie realisties nie,” sê Burger.

Die staatskas is vanjaar verrinneweer deur die rampspoedige impak van die koronaviruspandemie.

Maar dit is nie omdat die regering meer bestee nie – sy begrotingstekort vanuit ’n bestedingsperspektief het redelik onveranderd gebly ondanks die aankondiging van ’n R500 miljard-stimuluspakket deur pres. Cyril Ramaphosa in April.

Staat se inkomste krimp

Volgens Burger is slegs R36 miljard van die stimuluspakket nuwe geld en meer as die begroting se beplande besteding van Februarie.

Die groot probleem vir die staatskas is die staat van inperking en pandemie se uitwerking op sy inkomste.

Die tesourie verwag nou dat sy inkomste vanjaar met R304 miljard gaan val. Die staat moet geld leen om hiervoor op te maak en dit laat sy skuld die hoogte inskiet.

In Februarie se begroting is nog verwag dat staatskuld as persentasie van die BBP vanjaar slegs 64% sou bereik, maar die verwagting is nou dat dit tot 82% sal opskiet voor die einde van die jaar.

En dit is hoofsaaklik omdat die begrotingstekort van die aanvanklike verwagte 6,8% van die BBP tot ’n kolossale 15,7% opgeskiet het.

“Vanjaar gaan Suid-Afrika R770 miljard leen. Dit is meer as die totale BBP van Namibië, Botswana, Lesotho en Eswatini saam (R731 miljard). Ons leen R14,8 miljard per week, of net meer as R2 miljard per dag,” sê Geordin Hill-Lewis, DA-LP, vandeesweek in ’n twiet.

Mike Schüssler, hoofekonoom van economists.co.za, maan ook oor die regering se swak skuldbestuur.

Volgens hom en economists.co.za bestee die regering nou R48,5 miljard méér per week as wat hy deur belasting invorder.

“Dit is ’n baie, baie diep gat. Dit gaan nié binnekort verby wees nie en sal na verwagting net dieper word.

“Om dié gat toe te maak, gaan seermaak, moenie ’n fout maak nie,” sê Schüssler.

Belasting sal skerp moet styg

Burger meen die staat misgis hom oor wat nodig sal wees om staatskuld onder 90% van die BBP te stabiliseer.

Volgens sy berekeninge sou die staat ’n primêre oorskot – die verskil tussen die staat se inkomste en nie-rente-draende uitgawes – van minstens 2% van die BBP moes handhaaf teen 2021 om die tesourie se verwagtinge oor staatskuld na te kom.

Teen 2028 sal die primêre oorskot 7% van die BBP moet beloop om staatskuld in toom te hou onder 90% van die BBP.

En die afgelope tien jaar reeds het Suid-Afrika ’n primêre tekort, selfs voor die pandemie se rampspoedige impak op die fiskus.

Burger sê die enigste manier om so ’n oorskot te behaal, sou wees om belasting “beduidend” met tot 3,6% van die BBP te verhoog tot sowat 29,5% van die BBP.

In 2017 was Suid-Afrika se verhouding van belasting tot BBP 25,9%.

Dit sou beteken dat persoonlike inkomstebelasting met meer as 10% moet styg, maar Suid-Afrikaners is reeds volgens verskeie maatstawwe oorbelas.

Dit sou beteken dat persoonlike inkomstebelasting met meer as 10% moet styg, maar Suid-Afrikaners is reeds volgens verskeie maatstawwe oorbelas.

Die Internasionale Monetêre Fonds beskou Suid-Afrikaners reeds as die agtste mees belaste bevolking uit 115 lande.

Statistieke Suid-Afrika sê die las op inkomstebelastingbetalers neem voortdurend toe en is nou vergelykbaar met dié van die Skandinawiese lande.

En selfs so ’n enorme styging in belasting sou nie genoeg wees om die nodige primêre oorskot te verseker nie.

Die staat sou ook beduidend sy besteding moes besnoei, wat die ekonomie in so ’n mate sou kniehalter dat dit “selfvernietigend” sou wees.

Die enigste uitweg is om te verseker dat BBP-groei begin inhaal by rentekoerse en nader aan 2,5% kom.

Dit, met gepaardgaande pogings tot verminderde besteding, sou teen 2038 beteken dat staatskuld tot vlakke in die 60% stabiliseer.

Maar intussen sal dit beslis 100% haal – en dis met enorme ingrypings én ’n beduidende verbetering in ekonomiese groei.

Burger sê die regering se verbintenis tot ingrypings wat staatskuld tot onder 90% van BBP hou, is “ekonomies en polities” onmoontlik en onrealisties.

Staatskuld sal dus ’n probleem bly vir “minstens” die volgende tien tot 15 jaar, wat ’n enorme impak op gewone mense se sak sal hê.

En as die regering daarin slaag om staatskuld as persentasie van die BBP op net 100% te hou, sal fiskale beleid “uitgeput” wees weens die kolossale ingrypings wat dit sal verg. As daar dan nog ’n krisis kom, sal die regering niks kan doen nie en sal net monetêre beleid kan pa staan, met sy beperkte vermoë om rentekoerse te verlaag.

Moeilike jare lê voor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.