Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks gaan van nou af elke sent omdraai

Suid-Afrikaners kan dalk gelukkig wees in die sin dat die koers waarteen persoonlike inkomstebelasting gehef word, nie vanjaar gaan styg nie, maar Jan Taks gaan sy mes slyp om seker te maak hy samel elke sent in wat aan hom verskuldig is.

Die kantore van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in die middestad van Johannesburg. Foto: Google Streetview

Dit is die kenners van Deloitte se voorspelling oor wat die staat se benadering in vanjaar se begrotingsrede gaan wees. Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die begrotingsrede op 20 Februarie.

“Ons verwag definitief nie dat persoonlike inkomstebelasting, maatskappybelasting of belasting op toegevoegde waarde (BTW) vanjaar verhoog gaan word nie,” sê Angelique Worms, direkteur by die ouditfirma Deloitte.

Sy het Donderdagoggend aan ’n paneelbespreking deelgeneem oor wat dié firma verwag Mboweni in sy begrotingsrede gaan onthul.

Worms sê sy verwag dat die staat net soos verlede jaar inkomstekerwe kan aanpas. “Ons verwag dat die kerwe vir individue wat 30% of minder belasting betaal, vergroot kan word. Ons verwag egter geen aanpassings vir die hoër groepe nie,” waarsku sy.

Delia Ndlovu, direkteur verantwoordelik vir belasting by Deloitte, sê die verwagting is dat aangesien persoonlike belasting waarskynlik nie verhoog gaan word nie, die staat dringend gaan werk maak om die R1,4 miljard te gebruik wat Mboweni reeds in Oktober in sy mediumtermynbegrotingsrede toegewys het om kapasiteit by die SAID te groei en die insameling van belasting te verbeter.

Kapasiteit by die SAID

“Ons dink die SAID gaan probeer om van die werknemers wat hy verloor het, weer terug te lok.

“Ons navorsing wys dat waar die SAID voorheen sowat 14 000 werknemers gehad het, het hy nou net sowat 12 000. Daar is dus ’n groot probleem wat kapasiteit betref by die SAID,” sê sy.

Gedurende die openbare sittings wat deur die Nugent-kommissie van ondersoek na gebeure by die SAID van 2015-’18 gehou is, het die meerderheid van getuies gesê werknemers het dié diens verlaat weens die manier waarop Tom Moyane, afgedankte kommissaris van die SAID, die instansie bestuur het.

Afgetrede regter Robert Nugent, wat aan die hoof van dié kommissie gestaan het, het in sy finale verslag wat hy in Desember aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur het, spesifiek aanbeveel dat “aktiewe stappe gedoen word om voormalige werknemers” weer aan te stel.

Ndlovu sê dit is ook baie goeie nuus om te hoor die SAID beplan om sy tegnologie op te knap, veral wat betref sy eFiling-stelsel.

“My hoop is dat ons gaan sien dat die SAID nuwe tegnologie gebruik wat blokketting, robotika en kunsmatige intelligensie sal insluit om hul prosesse te verbeter en bedrog te bekamp,” sê sy.

Die stand van die SAID se tegnologie was ’n groot fokuspunt gedurende die Nugent-kommissie van ondersoek se openbare sittings.

André Rabie, waarnemende hoof vir strategie in die SAID se afdeling vir digitale inligtingsdienste en tegnologie, het in Oktober voor dié kommissie getuig dat die eFiling-stelsel teen 2020 in duie kan stort as dit nie dringend opgedateer en in stand gehou word nie.

Volgens hom gaan dit waarskynlik R1 miljard kos om dit te doen.

Rabie het gesê Tom Moyane, geskorste kommissaris van die SAID, het enige verdere ontwikkeling van die stelsel in 2014 gestaak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.