Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks het sy mes in vir korrupsie
Edward Kieswetter, nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: LISA HNATOWICZ

Jan Taks het behoorlik sy mes in vir korrupte individue en maatskappye.

Ed Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het Dinsdag gesê die diens hou ’n valkoog oor die getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

“Ons het Mark Kingon spesifiek aangestel om dop te hou wat daar aangaan en in hoe ’n mate die SAID op gebeure behoort te reageer,” sê hy.

Kingon het vir ’n jaar lank as kommissaris waargeneem nadat pres. Cyril Ramaphosa vir Tom Moyane as kommissaris afgedank het. Tito Mboweni, minister van finansies, het Kieswetter op 1 Mei permanent in die pos aangestel.

“Ons werk nou saam met die Nasionale Vervolgingsgesag om te verseker dat individue en instansies wat hulself skuldig maak aan korrupsie, vervolg word,” sê hy.

Kieswetter het die media by die SAID se hoofkantoor in Brooklyn, Pretoria, toegespreek tydens die bekendstelling van die nuwe belastingseisoen vir 2019.

Hy het herhaaldelik egter gesê dit gaan nie daaroor of die SAID ’n spesifieke eenheid opgestel het om op korrupsie en die onwettige ekonomie te fokus nie, maar eerder of die prosesse in die algemeen in plek is om dit te doen.

Nugent-kommissie

Wat betref die bevindinge van die Nugent-kommissie van ondersoek na die SAID, sê Kieswetter hy het die afgelope maand reeds hard begin werk om die kommissie se aanbevelings in werking te stel.

“Baie van julle het dalk op 1 Mei vakansie gehou, maar ek het vanaf daardie dag reeds hard begin werk,” sê hy.

“Ek het reeds persoonlik sowat 60% van die SAID se personeellede ontmoet. Ek hoop om teen volgende Maandag sowat 80% te ontmoet.

“Ek wil op dié manier weer vertroue by werknemers herstel,” sê hy.

Kieswetter sê hy verwag dit gaan lank neem om die SAID weer tot sy volle glorie te herstel.

“Wanneer ’n rekenaarstelsel breek, is dit maklik om reg te maak. Wanneer beleid verkeerd is, kan dit verander word. Dit is maklik om hardeware te vervang. Die moeilikste ding om te doen is om die gees binne die diens te herstel,” sê hy.

“Ek het ongelukkig gevind dat baie van ons werknemers vertroue in die SAID verloor het. Daar is baie rassespanning en ’n gevoel van vrees.

“Dit help nie ons ontken dié probleme nie.”

Kieswetter sê een van die stappe wat die SAID doen om vertroue te herstel, is om alle dissiplinêre verhore sedert 2014 te hersien.

“As ons sou vind dat enige proses geskep is om korrupsie te ondersteun, dan sal ons die nodige stappe doen om dit reg te stel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.