Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks hoop om vertroue te herstel
Tom Moyane, geskors­te kommissaris van die SAID.

Die regrukplanne by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sedert die skorsing van Tom Moyane ses maande gelede sal belastingnakoming verbeter en vertroue in Jan Taks herstel, maar die resultate sal waarskynlik eers ná die huidige belastingseisoen wys, sê belastingkenners.

Die SAID moet in die huidige boekjaar R1 300 miljard insamel nadat dit verskeie teikens onder Moyane as kommissaris gemis het. Die inkomste vir die 2017-’18-boekjaar tot einde Maart was R700 miljoen minder as wat in die Februarie-begroting geraam is.

Moyane en sy bestuurspan het die swak ekonomie die skuld gegee en vinger gewys na moedswillige belastingbetalers wat ’n belastingrevolusie sou propageer.

Die SAID se gesukkel om sy teikens te bereik het onder meer gelei tot die Nugent-kommissie wat probleme by die Inkomstediens onder Moyane ondersoek.

Kyle Mandy, hoof van belastingbeleid by PwC, sê van die onlangse hofsake teen bekendes wat nie hul belastingverpligtinge nakom nie, beplande administratiewe boetes vir maatskappye wat opgawes laat indien, en organisatoriese en korporatiewe bestuursverbeterings sal mettertyd die belastingmoreel herstel, maar dit is ’n lang proses.

Tertius Troost, ’n senior belastingkonsultant by Mazars, sê die verantwoordelikheid rus nou op Mark Kingon, waarnemende

kommissaris, se skouers om die SAID se aansien te herstel en te verseker werknemers kan hul werk doen sonder vrees vir politieke inmenging.

kommissaris, se skouers om die SAID se aansien te herstel en te verseker werknemers kan hul werk doen sonder vrees vir politieke inmenging.

Die finalisering en publisering van die diensleweringshandves, die herinstelling van die eenheid vir groot ondernemings (LBU) en vinniger terugbetalings aan belastingbetalers behoort op lang termyn positiewe resultate vir die SAID en sy inkomste-insameling te beteken, maar Troost twyfel of dit in die huidige belastingseisoen al ’n groot verskil sal maak.

In die handves verbind die SAID hom onder meer tot die regverdige behandeling van belastingbetalers deur net belasting te vra wat hulle kragtens wet hoef te betaal, almal eenders te behandel en binne spesifieke tydraamwerke terugbetalings te doen.

Mark Kingon

Die SAID onderneem dat sy oproepsentrums sover moontlik oproepe binne 4 minute sal antwoord in spitstye en binne 1 minuut buite spitstye.

Troost sê die R1 300 miljard is ’n optimistiese mikpunt in die huidige ekonomiese klimaat.

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het ook ’n ruk gelede gesê die resessie sal sake vir die SAID bemoeilik.

Die SAID sê in ’n verklaring met net minder as ’n maand oor vir individuele belastingbetalers om hul opgawes in te dien, het hy reeds sowat 4% meer opgawes ontvang as teen dié tyd in die vorige belastingseisoen.

Aan die begin van die afgelope week was hy naby die 3 miljoen-merk. Van dié opgawes is 51% via eFiling ingedien. In die vorige twee belastingjare is sowat 6 miljoen opgawes ontvang, maar meer as 1,5 miljoen opgawes is elke jaar ingedien deur mense wat nie nodig gehad het om dit te doen nie, het Kingon aan die begin van die belastingseisoen vanjaar gesê.

Die SAID sê in ’n verklaring hy het vanjaar reeds 18 belastingbetalers laat vervolg wat nie hul opgawes ingedien het nie en boetes van tot R20 000 is gehef. Die oortreders het nou vorige oortredings teen hul naam.

Onder dié bekendes is die voormalige Bafana Bafana-sokkerster Teko Modise.

Vroeër die week het die TV-persoonlikheid Bonang Matheba in Johannesburg in die hof verskyn in verband met belastingbedrog.

Mandy sê dié optrede sal ander belastingontduikers afskrik en ook ’n boodskap stuur aan dié wat wel hul belastingverpligtinge nakom dat Jan Taks seker maak almal betaal hul deel.

“Dit kan in die huidige belastingseisoen ’n klein impak op invordering hê, maar die impak sal groter raak hoe langer die SAID aanhou om belastingbetalers wat hul verpligtinge ontduik, te vervolg en hul name bekend te maak.”

Troost sê die bekendmaking van die skuldiges se name sal die idee van ’n belastingrevolusie ontmoedig en belastingontduikers twee keer laat dink.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.