Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks is weer reg vir groot sake

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se grootsakesentrum (GSS) is oop vir besigheid.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het Woensdag amptelik dié sentrum in Woodmead, Johannesburg, geopen.

Die GSS was een van die fokuspunte van die Nugent-kommissie van ondersoek na gebeure by die SAID.

Dié kommissie het bevind die SAID se vermoë om belasting by groot ondernemings en ryk individue in te samel, het ’n groot knou gekry toe Tom Moyane, Kieswetter se voorganger, dié sentrum in 2015 gesluit het.

Moyane is sedertdien op aanbeveling van die Nugent-kommissie afgedank.

Mark Kingon, wat voor Kieswetter se aanstelling as kommissaris waargeneem het, het in Julie 2018 aangekondig dat dié sentrum weer tot stand gebring gaan word.

Regter Bernard Ngoepe, die belastingombud, en verskeie uitvoerende hoofde van groot maatskappye, soos Mike Brown van Nedbank, het die amptelike opening bygewoon.

“Dit was ’n tragedie dat dié sentrum verdwyn het,” het Kieswetter aan Netwerk24 gesê in ’n onderhoud kort voor die amptelike opening van die sentrum.

“Dit is internasionale goeie sakepraktyk vir ’n belastingdiens om ’n sentrum soos dié te hê. Groot ondernemings en ryk individue bied nie net die grootste geleenthede vir ’n belastingdiens om inkomste in te samel nie, maar ook van die grootste risiko,” sê hy.

Dit is internasionale goeie sakepraktyk vir ’n belastingdiens om ’n sentrum soos dié te hê. Groot ondernemings en ryk individue bied nie net die grootste geleenthede vir ’n belastingdiens om inkomste in te samel nie, maar ook van die grootste risiko.

“Belastingbetalers het sonder twyfel die reg om hul blootstelling aan belasting te minimaliseer. Hulle is egter nie daarop geregtig om belasting te ontduik nie. Dit is onwettig.”

Kieswetter sê die nuwe GSS is nie bloot ’n kloon van die vorige sentrum nie.

“Hoewel ek baie trots was op die GSS toe dit in 2004 geskep is, het ons nou ’n baie ander instelling nodig,” sê Kieswetter. Hy is in 2004 aangestel as die hoof van dié sentrum.

“Dit sal ’n teleurstelling wees om die SAID bloot weer tot sy voormalige glorie te herstel. Dit sal beteken ons beweeg agteruit.

“Die wêreld het verander, ons moet vooruit beweeg,” sê hy.

“Daar was nie eens sosiale media toe die GSS oorspronklik die lig gesien het nie. Nou speel tegnologie ’n enorme rol in wat ons doen.”

Kieswetter sê net soos maatskappye tegnologie gebruik om belasting te ontwyk, só kan die SAID ook tegnologie gebruik om te verseker alle belasting wat hom toekom, word aan hom betaal.

“Ons het net die laaste jaar sowat 875 000 belastingbetalers geïdentifiseer wat geregistreer behoort te wees.

“Ons het verskeie skuiwergate gevind wat individue en maatskappye gebruik om belasting te ontwyk. Ons het nou reeds vele hiervan toegestop.”

Hy sê met die hulp van tegnologie kon die SAID sien dat rakmaatskappye net in die afgelope drie jaar daarin geslaag het om met onwettige eise vir die terugbetaling van belasting op toegevoegde waarde sowat R8 miljoen uit die stelsel te steel.

Oor die GSS sê Kieswetter werknemers speel ’n groot rol in die sukses daarvan. Hy het soos beloof werknemers wat die SAID voorheen verlaat het, heraangestel.

“Waar ons vaardighede nodig het en ons seker is van die integriteit van ’n voormalige werknemer, het ons weer van hulle aangestel,” sê hy.

Wat is die GSS se fokus?

  • Maatskappye met ’n omset van meer as R1 miljard per jaar;
  • Alle maatskappye wat op die JSE genoteer is;
  • Alle multinasionale maatskappye;
  • Finansiëlediensverskaffers en mynmaatskappye met ’n omset van meer as R500 miljoen per jaar;
  • Individue wat bates van meer as R75 miljoen besit; en
  • Individue met trusts en/of wat kantore gebruik om hul familiesake te hanteer.
Meer oor:  Said  |  Edward Kieswetter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.