Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks lê beslag op herehuis van van model se pa
Candice van der Merwe, dogter van Gary van der Merwe, toe sy nog ’n model was. Foto: Argief

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het uiteindelik ’n tien jaar lange hofsaak gewen om die Kaapse sakeman Gary van der Merwe se laaste bates te kan likwideer en hom uit sy huis te sit, maar die groter stryd is nog ver van klaar af.

Van der Merwe (49) is die pa van die oudmodel Candice van der Merwe (26), wat in 2013 $15,3 miljoen van Saad Hariri, later premier van Libanon, vanweë haar “innemende persoonlikheid” as geskenk ontvang het.

Belasting hierop is aanvanklik nie betaal nie, maar die SAID het ook aanvanklik beweer dat Candice se pa haar eintlik vir geldwassery gebruik het nadat hy reeds verwikkel was in ’n hofstryd met die SAID oor wanbetaling van belasting.

Van der Merwe is nou amptelik deur die balju uit sy herehuis in Woodbridge Island, Milnerton, gesit sodat beslag gelê kon word op dié bate.

Dit kom nadat die konstitusionele hof op 5 Februarie Van der Merwe se appèlaansoek teen die uitsettingsbevel van die hand gewys het.

Van der Merwe skuld belasting op talle ondernemings wat hy begin het, onder meer ’n aanlyn lotery. Die SAID is slegs één van die skuldeisers wat wag op die likwidasie van sy laaste bate. Standard Bank is ook op ’n lang lys krediteure wat wag om Van der Merwe se laaste bates te likwideer.

Van der Merwe sê egter aan Huisgenoot dat die SAID die mes in het vir hom en dus al sy ondernemings doelbewus en ongegrond “vernietig” het.

In 2019 het hy die SAID vir R5,6 miljard gedagvaar vir die verlore beleggings en sakegeleenthede wat hy beweer die SAID onreëlmatig van hom deur hul regsaksie ontneem het. ’n Tweede hofaansoek vir skadevergoeding van R1 miljard is ook ingedien – dié omdat die SAID hóm beskuldig het vir geld wat sy dogter onder twyfelagtige omstandighede van Hariri ontvang het in 2013.

Candice se agterstallige belasting op haar geskenk van $15,3 miljoen is later deur Hariri met nóg ’n oordrag van R44 miljoen in 2016 ná ’n aparte hofstryd betaal. Sy het ook twee motors, naamlik ’n Range Rover Evoque en ’n Audi R8 Spyder, van die getroude man met drie kinders ontvang.

In haar eie eis van die SAID voer sy in hofstukke aan dat die SAID haar die R44 miljoen wat sy moes oorbetaal vir belasting skuld, aangesien sy nie veronderstel was om belasting op “geskenke” vanuit die buiteland te betaal nie, berig Rapport.

’n Foto van Gary van der Merwe en sy dogter, Candice, ná sy opgehou het om as model te werk. Foto: Huisgenoot

Sy het wel ’n aparte eis teen die SAID en nasionale tesourie vir R1 miljard se skadevergoeding vir onder meer dat sy nog vir baie lank geldelike voordeel uit Hariri sou kon kry as dit nie vir die SAID se inmenging was nie.

Die SAID sê Vrydag in sy verklaring hy het al suksesvol die res van Van der Merwe se bates gelikwideer, maar dié hofstryd, wat reeds in 2010 begin het, is nóú eers voltooi.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het Jan Taks se werkers se lof besing vir hul deursettingsvermoë om wanbetalers tot die einde toe te jaag.

“Terwyl die organisasie sy kapasiteit herbou wat doelbewus deur die jare heen vernietig is, is daar vroue en mans wat die vermoë behou het om groot en ingewikkelde regsake effektief te bestuur,” sê Kieswetter Vrydag in ’n verklaring.

“Dié hofoorwinning wys dat die organisasie, ondanks sy struikelblokke, sal voortgaan om onwillige belastingbetalers te konfronteer.”

Volgens Kieswetter is die SAID vasbeslote om wanbetalers hok te slaan, al verg dit jare se litigasie.

Die SAID sê ander onlangse hofoorwinnings het daartoe gelei dat 80 individue vir ontduiking van belasting op toegevoegde waarde (BTW) in hegtenis geneem is.

Hy sê belastingmisdaad, soos korrupsie, is nie ’n misdaad sonder slagoffers nie. “Dit raak die armstes van die armes regstreeks omdat hulle afhanklik is van basiese dienste.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.