Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks waarsku wanbetalers
said, jan taks
Jan Taks waarsku Suid-Afrikaners om nie belasting te ontduik nie.

Jan Taks gaan dalk nie meer van jou salaris aftrek vir belasting nie, maar hy gáán jou vasvat as jy hom nie betaal wat jy moet nie.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het Donderdagoggend in ’n verklaring gewaarsku dat die inkomstediens mense wat belasting ontduik, gaan vasvat.

Hy sê die SAID is gereed om “ferm en professioneel” op te tree teen diegene wat belasting- of doeanewette oortree.

“Belastingmisdaad is nie ’n misdaad sonder slagoffers nie. Dit raak die armste van die armes wat afhanklik is van basiese dienste direk.

“Die SAID is derhalwe vasbeslote om die belasting- en doeanewette van die land op ’n verantwoordelike manier af te dwing wanneer alle ander regsmiddele uitgeput is.

“Ons wil belastingbetalers en handelaars herinner om met die SAID te praat voordat ons met jou praat,” maan hy.

Die SAID word deur ’n groot uitdaging in die gesig gestaar om in die komende jaar genoeg belasting in te vorder.

Vir die 2020-’21-boekjaar beoog Tito Mboweni, minister van finansies, dat die land ’n inkomste van R1 580 miljard gaan verdien. Die meeste hiervan, oftewel R1 425 miljard, sal deur middel van belasting ingevorder word.

Dié vooruitsig is ’n skamele R3 miljard meer as wat in die 2019-’20-boekjaar verwag is.

In die boekjaar tot einde Maart vanjaar, het die SAID na raming R63,3 miljard minder belasting ingevorder as die R1 422 miljard wat daar in Februarie 2019 vir belastinginkomste begroot is.

Wat die uitdaging in 2020-’21 soveel groter maak, is dat Mboweni beduidende belastingverligting vir individue gebring het.

Dit beteken die SAID gaan na verwagting reeds R14 miljard minder persoonlike belasting kan invorder as wat hy in die huidige boekjaar kon doen.

Belasting vir maatskappye het onveranderd gebly.

Die enigste manier hoe die SAID vanjaar sy teiken kan haal, is om elke sent in te vorder wat aan hom verskuldig is.

Kieswetter sê in die verklaring die SAID gaan veral sy oë oophou vir maatskappye wat wil kul wanneer dit by belasting op toegevoegde waarde (BTW) kom, onderwaardering in inkomstebelastingverklarings en oortredings van die doeanewette.

Die SAID wil ook belastinginkomste verhaal uit geld wat moontlik uit vermoedelik misdadige bedrywighede verkry word. ’n Toegewyde eenheid is vir hierdie doel gestig.

Kieswetter sê Suid-Afrikaners moet kennis neem van die gevolge van belastingontduiking en moet eerder saam met die SAID werk om dit uit te roei.

“Ons land kan net groei en ontwikkel as elkeen van ons ’n billike deel van die belasting betaal en die regte ding doen,” sê hy.

Meer oor:  Ekonomie  |  Efiling  |  Jan Taks  |  Belastingontduiking  |  Belasting  |  Belastinggeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.