Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks se beursie het gat van R66,2 mjd.
Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Lisa Hnatowicz

Voorlopige syfers wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) Woensdag bekend gemaak het, beklemtoon weer eens die uitdagende jaar wat hy agter die rug het.

Die belastinggaarder het in die jaar tot einde Maart R1 356 miljard ingesamel – 5,3% meer as die vorige jaar.

Dit is egter R66,2 miljard minder as waarvoor die staat in Februarie 2019 begroot het.

In Oktober het die staat sy verwagte inkomste tot R1 370 miljard aangepas. Selfs teenoor dié verwagting het die SAID steeds R14 miljard minder ingesamel as waarop toe gehoop is.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, sê in ’n digitale mediakonferensie in die syfers kan gesien word dat die plaaslike ekonomie onder geweldige druk is.

Hy sê hoewel die land voor groot uitdagings gedurende die 2019-’20-boekjaar te staan gekom het, soos beurtkrag en powere ekonomiese groei, gaan die 2019-’21-boekjaar selfs nóg groter uitdagings bied.

Hy waarsku die kredietgradeerder Moody’s Investors Service se besluit Vrydagaand om die land tot rommel af te gradeer, gaan saam met die uitwerking van die Covid-19-pandemie ’n “enorme” impak op die ekonomie hê.

Kieswetter was nie bereid om te voorspel hoe die SAID in 2020 gaan vaar met die insameling van belasting nie.

“Dit maak nie saak in watter kristalbal jy nou kyk nie, jy gaan verkeerd wees.”

Hy sê daar is egter geen twyfel daaroor nie dat maatskappye gedurende die Covid-19-pandemie nie aan groei kan dink nie, maar bloot daarop fokus om nog in bedryf te wees nadat die staat van inperking verby is.

Kieswetter sê as maatskappye sukkel en verbruikers nie ’n besteebare inkomste het nie, kan dit onmiddellik gesien word in hoeveel belasting ingevorder word.

Hoe swakker ekonomiese groei en besteding, hoe minder belasting word ingesamel.

Hy sê die enigste manier hoe die SAID dit gaan regkry om na behore belasting in te samel, is om seker te maak mense en maatskappye betaal wat hulle moet, en om alle moontlike skuiwergate toe te stop.

Belasting

Bronne van belastinginkomste

Die grootste bron van inkomste bly van individue.

  • Suid-Afrikaners het die afgelope jaar R528,9 miljard in persoonlike-inkomstebelasting betaal.
  • Belasting op toegevoegde waarde (BTW) beloop R346,2 miljard.
  • Maatskappye het R214,7 miljard belasting betaal.
  • R55,4 miljard is uit invoertariewe verdien.

Terugbetalings

Die SAID het nie net geld ingesamel nie. Hy het ook belastingbetalers – en veral dié aan wie hy BTW skuld

– terugbetaal.

In die boekjaar het die SAID R292 miljard terugbetaal. Dié bedrag is nie by die finale inkomstesyfer van R1 356 miljard ingereken nie.

  • R31,4 miljard se inkomstebelasting is aan individue terugbetaal.
  • R19,3 miljard se inkomstebelasting is aan maatskappye terugbetaal.
  • R232,5 miljard se BTW is aan ondernemings terugbetaal.
  • R8,8 miljard se dieselrabatte is terugbetaal.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.