Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks se visier ál meer op rykes met geheime

Die talle maniere hoe rykes hul geld wegsteek om minder belasting te betaal, gaan al hoe meer aandag kry, sê oudregter Dennis Davis.

Die SAID stel meer data-ontleders aan om die inligting oor hoë-netto-waarde-individue na te gaan. Foto: Pixabay

Davis, voorsitter van die Davis-belastingkomitee, wat as ’n konsultant vir die Suid-Afrikaanse belastinggaarder (SAID) optree, het op ’n konferensie van Glacier International oor buitelandse beleggings oor talle belastingkwessies wat welvarendes raak, gepraat.

Volgens Davis is hoë-netto-batewaarde-individue egter nie SAID se enigste teiken ten opsigte van ondersoeke en hofsake wat na die belastinghowe op pad is nie.

Hy sê die SAID is ook in die taxibedryf en in die onwettige tabakbedryf geïnteresseerd.

Die SAID gaan ook begin aandag gee aan die geld wat mense gebruik om bitcoin in die buiteland te koop, om te bepaal of ’n oudit daarop getoon kan word en of belasting op dié geld betaal is.

Davis sê daar is geen vordering met ’n welvaartbelasting op rykes op die oomblik wat vir hom aandui dat dit ’n moontlikheid in die komende jaar of drie is nie.

Die strategie van die SAID tans is eerder om nakoming te verbeter en nie om belastingkoerse te verhoog nie.

“Ons is nie in ’n posisie om belasting te verhoog nie. As al die belastinggate toegestop kan word en beter nakoming verseker kan word, gaan dit beteken dat belastingkoerse dieselfde kan bly, indien nie verlaag kan word nie.”

Die onlangse aankondiging in die begroting dat maatskappybelasting met 1% gaan daal, is ’n aanduiding daarvan.

Volgens Davis het beter nakoming onder belastingbetalers en doeltreffendheid van die SAID bygedra tot die R138 miljard meer belasting wat ingesamel is in die boekjaar tot einde Maart 2021 as wat met die mediumtermynbegroting in Oktober verwag is.

Volgens hom stel SAID meer data-ontleders aan om die inligting oor hoë-netto-waarde-individue na te gaan.

Byvoorbeeld, die eNatis-stelsel word gebruik om te bepaal watter motors ’n persoon besit en munisipale waardasierolle om eiendomme op te spoor.

Hy twyfel of daar werklik net 5 000 mense in die land is wat elk meer as R5 miljoen per jaar verdien.

LEES OOK: Brandarm maar hy ry ’n Ferrari

“Daar word tans ’n omvattende studie gedoen om die omvang van die akkuraatheid van belastingopgawes te bepaal. Dit moenie gesien word as ’n aanval op mense wat wettig betaal wat hulle moet nie, maar om te bepaal hoe groot die gat in die stelsel is.”

Volgens hom neem die samewerking tussen die Reserwebank, Fica en SAID toe oor die geld wat landuit gaan om te bepaal of daar verdagte transaksies is en watter belastingaanspreeklikheid daar is.

Suid-Afrika het 87 belastinginligting-uitruilooreenkomste met ander lande wat gebruik kan word om trusts en maatskappye oorsee te ondersoek.

Davis sê daar word toenemend gekyk hoe die ooreenkomste gebruik kan word om twyfelagtige buitelandse strukture te ondersoek.

“As jy ’n buitelandse struktuur gebruik, maak seker dat dit al die regulasies van Suid-Afrika nakom. Ek wil ook voorstel dat ingewikkelde trusts in die moderne internasionale wêreld van belastingbeplanning hoogs twyfelagtig is.”

Volgens hom is daar talle sake op pad na die belastinghof wat handel oor die nie-openbaarmaking van bates en weggesteekte welvaart, plaaslik en internasionaal.

Hy maan ook oor sogenaamde buitelandse pensioenfondse wat nie ’n werklike pensioenfonds is nie. Dit word vir belastingvermyding gebruik.

Hy sê dit gaan nie daaroor of die pensioenfondse nie geregistreer is in die land nie maar of dit ’n werklike pensioenfonds is en waar die struktuur van so aard is dat die bydraes tot die fonds duidelik ’n skenking aan die persoon self, of sy familie, is.

Die bydraes tot die pensioenfonds kan belasting oor skenkings lok.

Davis meen as daardie inligting voor die Zondo-kommissie oor staatskaping ontleed word, asook van ander kommissies, is ernstige belastingontduiking dalk die manier om mense aanspreeklik te hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.