Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jan Taks sit voet neer oor inligting oor Zuma

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se besluit om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te dagvaar het die kommissaris van die diens heeltemal onkant gevang.

Edward KieswetterFoto: Argief

Die OB wil die SAID verplig om belastinginligting van oudpres. Jacob Zuma bekend te maak.

Dit volg nadat die DA in 2017 ’n klag by die OB se kantoor ingedien het waarin die party versoek dat Zuma ondersoek word. Daar word beweer dat Zuma gedurende die eerste vier maande as president geld by ’n sekuriteitsmaatskappy ontvang het wat nooit vir belastingdoeleindes verklaar is nie. Die bedrae beloop glo miljoene rande.

Die SAID weier egter om die inligting aan die OB te oorhandig. Hy dring daarop aan dat die Wet op Belastingadministrasie hom verbied om belastinginligting van enige belastingbetaler bekend te maak.

“Ek was onder die indruk ná ’n gesprek met die kantoor van die OB dat daar ’n verstandhouding was dat ons die kwessie sou bespreek,” sê Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID.

Kieswetter sê sover hy weet, is dit die eerste keer dat die kommissaris gedagvaar word om inligting oor ’n belastingbetaler bekend te maak.

Kieswetter het Dinsdagmiddag die media by sy kantore in Pretoria toegespreek oor die regstryd tussen die SAID en die OB.

“Die werk wat die OB doen, is belangrik om demokrasie te handhaaf.

As ek as kommissaris inligting oor ’n belastingbetaler bekend maak, oortree ek persoonlik ’n wet. Ek kan persoonlik verantwoordelik gehou word en selfs tronkstraf kry.
Edward Kieswetter

“Ons het in 2018 toe die saak oorspronklik begin is, met die kantoor van die OB vergader. In dié vergadering het ek dit duidelik gestel wat ons saak is en dat ons moet kommunikeer. Ons moet saamwerk.

“Ek het in dié gees versoek dat ons aanhou om mekaar te steun en saam te werk. Die versoek was dat as ons oor kwessies verskil, ons om die tafel sit en dit bespreek,” vertel hy.

“Dit was ’n laaste uitweg om ons op howe te beroep.”

Kieswetter sê die dagvaarding plaas hom as kommissaris persoonlik tussen die duiwel en die diep blou see.

“As ek as kommissaris inligting oor ’n belastingbetaler bekend maak, oortree ek persoonlik ’n wet. Ek kan persoonlik verantwoordelik gehou word en selfs tronkstraf kry.”

Kieswetter het breedvoerig verduidelik onder watter omstandighede die SAID wel inligting bekend mag maak en watter wette wel die vereiste in die Wet op Belastingadministrasie vir vertroulikheid tersyde stel.

Die wette is:

  • Art. 9 van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel
  • Art. 37 van die Wet op die Finansiële Inligtingsentrum
  • Art. 71 van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad

“Die Wet op die Openbare Beskermer stel glad nie enige van die artikels van die Wet op Belastingadministrasie tersyde nie,” sê Kieswetter.

Hy het ook herhaaldelik gesê dat dit vir die SAID daaroor gaan om duidelikheid by die hof te kry oor of hy die wet reg interpreteer.

“Dit gaan nie hier oor ’n naam nie. Dit gaan hier oor die beskerming van elke individuele belastingbetaler se inligting,” sê Kieswetter.

“Ons probeer nie ’n individuele belastingbetaler beskerm nie, maar ons wil duidelikheid hê oor wat die wet bepaal.”

Kieswetter sê ook die argument dat dit in openbare belang is, dra nie water nie.

“Ons behandel elke belastingbetaler as gelyk voor die wet, maak nie saak wie dit is nie.”

Kieswetter sê dat sou die hof hom verplig om die inligting oor Zuma aan die OB te gee, dan sal hy dit doen.

Op die vraag hoekom die SAID die hof vra dat Mkhwebane persoonlik verantwoordelik gehou moet word vir 15% van die regskoste sou sy die saak verloor, sê Kieswetter staatsamptenare in pertinente posisies moet as individue verantwoordelikheid aanvaar vir hul besluite.

“Ek is aangeraai om dié versoek in te sluit aangesien die OB die keuse gehad het om die dagvaarding terug te trek,” sê hy.

Die dagvaarding sal vir eers nie uitgevoer tot na 'n regsproses gevolg is oor wat die interpretasie van die wet is nie. Die saak sal dus nie Woensdag gehoor word soos voorheen berig is nie.

SAID Media Verklaring 12 November 2019 by Elvira on Scribd

 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.