Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jou planne vir ’n nuwe motor word in die wiele gery

Februarie het vir ’n slag goeie nuus vir die ekonomie gebring met die verkope van nuwe voertuie wat goed vooruit geboer het.

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo is tans die topverkoper onder die passasiersvoertuigsegment in Suid-Afrika. Foto: Volkswagen

Motorverkope is ’n leidende aanwyser van die ekonomie, maar dit word tans deur probleme by invoerhawens gekniehalter.

Wêreldwyd is hawens in ’n warboel soos die vraag na nuwe voertuie skielik herstel het, vinniger as verwag, en daar is nou dienooreenkomstig groot tekorte aan nuwe voertuie landwyd.

Dit gee wel, volgens Corné Venter, uitvoerende hoof van Motus Retail and Rental, ’n beduidende hupstoot aan plaaslik vervaardigde voertuie in Suid-Afrika, wat ’n welkome verwikkeling in die bedryf is.

“Die verkoopsaktiwiteit op nuwe voertuie het verbeter, maar die beskikbaarheid van voorraad belemmer die groei in die nuwe voertuigsegment.

“Baie invoerders onderskat die herstel van die Suid-Afrikaanse voertuigmark. Gevolglik ervaar die bedryf aansienlike voorraadtekorte, en die situasie sal na verwagting nog ’n rukkie voortduur.

“Die beskikbaarheid van onderdele beïnvloed ook die vervaardiging en het ’n verdere uitwerking op die voorraadvlakke van voertuie,” sê Venter Woensdag in ’n verklaring.

Passasiersmotors

Naamsa, die Suid-Afrikaanse bedryfsliggaam vir motor- en onderdelevervaardigers, sê die topverkopers in Suid-Afrika in die passasiersafdeling in Februarie was die Volkswagen Polo Vivo (2 543), die gewone Polo (1 402), Suzuki Swift (945), Hyundai Venue (880) en Volkswagen T-Cross (833).

“Die algehele wedren in passasiers is gewen deur Volkswagen, wat in Februarie altesaam 6 329 voertuie verkoop het met ’n markaandeel van 24,5%, gevolg deur Toyota met 3 462 voertuie en Hyundai wat 2 500 eenhede verkoop het met ’n 8,75%-markaandeel,” sê Motus.

Die prestasie van Hyundai in die mark vir passasiersvoertuie is veral opmerklik, aangesien alle Hyundai-modelle ingevoer word.

“Ons skryf die prestasie toe aan ’n goeie modelreeks wat alle segmente dek, sowel as ’n handelaarsnetwerk wat positief presteer het en nou vrugte afwerp, aangesien ons steeds die markaandeel in ’n dalende algehele mark behaal het.

“Ons glo ook dat ons waarborg van sewe jaar die gemoedsrus bied wat klante in onsekere tye soek,” sê Stanley Anderson, verkoops- en bedryfsdirekteur, Hyundai Auto South Africa.

In die mark vir passasiersmotors het Suzuki met 3,2% gegroei, Kia met 1,9% en Hyundai met 1,6%.

Ford was die grootste verloorder, wat in markaandeel met 3,7% gedaal het, maar het wel goed presteer in die mark vir ligte handelsvoertuie.

Ligte handelsvoertuie

In die kategorie van ligte handelsvoertuie was dit Toyota wat koning gekraai het, met verkope van 4 651 wat ’n 38,7% markaandeel meegebring het.

Ford, wat 1 913 verkoop het, het die tweede plek behaal voor Nissan in die derde plek met ’n totaal van 1 713 voertuie wat verkoop is.

Die wenners in die segment vir ligte handelsvoertuie was die Toyota Hilux (3 031 eenhede), gevolg deur die Ford Ranger (1 858 eenhede), die Isuzu D-Max (1 315 eenhede), Toyota Hi-Ace (1 210 eenhede) en die Nissan NP200 (1 130 eenhede).

Sportnutsvoertuie

Die Toyota Fortuner het weggestap met die louere in die SUV-segment wat 706 eenhede verkoop het, gevolg deur die Toyota RAV (419), Suzuki Jimny (341), Mazda CX-5 (337) en die onlangs bekendgestelde Suzuki Brezza (231).

Vooruitsigte

“Die verkoop van nuwe voertuie sal onder druk bly as gevolg van voorraadvlakke, maar daar word verwag dat die vraag na voertuie sal oorskuif na dié van gebruikte voertuie om die leemte te vul.

“Motus-handelaars verkoop tans een tweedehandse voertuig vir elke nuwe voertuig wat verkoop word. Handelaars sien ook dat voertuie wat gebruik is, beter pryse behaal as ooit tevore, met die vraag daarna wat tans op die hoogste punt is,” sê Venter.

Motus verwag groei in alle segmente gedurende Maart, vanweë die vermindering in Covid-19-infeksies en die verligting van die beperkings op die inperking behoort ’n positiewe invloed op verbruikersentiment en ekonomiese aktiwiteit te hê. Daar word verwag dat die voertuigmark hierby sal baatvind, hoewel dit eers teen die einde van die maand duidelik kan word.

“Met die verwagting van nie veel prysstygings in die komende maande nie en as die huidige vraag na voertuie voortduur en vervaardigers die voorraadtekorte kan regstel, sal ons waarskynlik ’n sterker herstel in die nuwe voertuigmark sien,” sê Venter.

Meer oor:  Toyota  |  Ford  |  Naamsa  |  Volkswagen  |  Hyundai  |  Suzuki  |  Voertuie  |  Invoer  |  Motors  |  Motorhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.