Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
JSE begin klim ná 2 dae se dalings

Die JSE het Woensdagoggend nadat die mark geopen het, gestyg ná twee dae wat die aandelemark laer gesluit het.

Naspers, ’n swaargewig op die mark, het vroegoggend met 3% na dié aankondiging van ’n aandeelomruiltransaksie met Prosus gestyg.

LEES OOK: Prosus wil 45% van Naspers hê in ruil vir aandele

Die indeks vir alle aandele het Dinsdag laer gesluit nadat hernude vrese onder beleggers oor inflasie posgevat het.

Die getal maatskappye wat op die JSE genoteer is, het in die afgelope 20 jaar gehalveer. Foto: LEON SADIKI

Anchor Capital skryf in markkommentaar die JSE is deur die dalings in die goud- en platinummynaandele afgetrek.

Harmony Gold en Gold Fields het Dinsdag onderskeidelik met 5,4% en 2,3% gedaal.

Die platinummynmaatskappye Northam Platinum, Impala Platinum en Royal Bafokeng het met 2,8%, 2,3% en 1,8% gedaal.

Die tabakgroep British American Tobacco het met 2% en Naspers het met 1,8% gedaal.

In geheel het die indeks van alle aandele met 1,7% tot 67 241 gedaal, waarop hy ’n week gelede verhandel het.

Volgens Anchor Capital het die kommer oor die stygende inflasie se uitwerking op die beleggersentiment ook die FTSE-indeks van top-100-aandele in Brittanje afgetrek, wat 2,5% laer gesluit het.

Die Amerikaanse markte het ook laer gesluit en is afgetrek deur dalings in tegnologie-aandele en die bespiegelinge oor die styging in inflasie wat vroeër kan lei tot rentekoersverhogings daar as wat gedink is.

Asiatiese markte het Woensdagoggend gedaal oor die versigtigheid wat beleggers aan die dag lê.

Bloomberg berig aandele het Woensdagoggend oorsee gedaal met beleggers wat wag op Amerika se verbruikersprysinflasiesyfers wat later die dag uitgereik gaan word.

Daar heers ’n debat of die druk op pryse genoegsaam gaan wees om die Federale Reserweraad te dwing om rentekoerse vinniger te verhoog as wat aangedui is.

Die vrese kom terwyl groot stimuluspakkette ’n lopie in aandele veroorsaak het en kommer laat ontstaan het dat aandele duur begin raak het.

The New York Times berig die hoër rentekoerse ontmoedig die neem van risiko’s in die markte.

Boonop is dit dié tyd van die jaar dat aandele tradisioneel sukkel, volgens Mark Haefele, beleggingshoof van UBS Global Wealth Management.

Hy meen met aandeelindekse naby aan rekordhoogtes en kommer oor variante van die koronavirus “sal beleggers moontlik lus voel om die ‘sell in May and go away’-gesegde te volg”, berig The New York Times.

Reuters berig die daling in aandeelpryse het nie soos normaalweg veroorsaak dat die dollar as ’n veilige hawe beskou word nie.

“Wat ongewoon die afgelope twee dae is, is dat die angs in die aandeelmark nie die Amerikaanse dollar sigbaar versterk het nie,” sê Alvin T. Tan, hoof van Asië valuta-strategie van RBC Capital Markets.

Die rand het Dinsdag op R13,99 gesluit, die sterkste sedert einde 2019.

Die rand het Woensdag op R14,02 geopen.

Meer oor:  Markte  |  Jse  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.