Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
JSE daal 2,6%; langste daling sedert Februarie
Die JSE in Sandton, Johannesburg.

Die aandelebeurs het Donderdagoggend 2,6% geval en is op pad om sy langste daling sedert Februarie voort te sit.

Die indeks het Woensdag 2,5% gedaal en met 1 374 punte tot 52 813 geval.

Ontleders het Donderdagoggend in kommentaar gesê dit is die grootste daling sedert die middel van Augustus. Dit was die sewende dag agtereenvolgens dat die indeks van alle aandele van die JSE gedaal het “wat die langste daling sedert Februarie is”.

Volgens RMB Morgan Stanley se aandelespan het R26 miljard se aandele verhandel.

Naspers, die swaargewig op die beurs, is reeds amper 5% laer Donderdagoggend net nadat die mark geopen het.

Naspers het Woensdag 6,5% laer gesluit en weens sy grootte op die JSE die indeks afgetrek. Naspers maak sowat 17% van die indeks uit. Dit word toegeskryf aan Tencent in Hongkong wat ’n “rekord” aantal dae aaneenlopende dalings ervaar, ook sewe dae lank. Tencent is reeds Donderdagoggend 7% laer.

Naspers het ’n belang van 31% in Tencent.

“Aandelemarkte wêreldwyd is besig om ná die swaar verliese op Wall Street af verkoop te word,” sê George Brown, ’n ekonoom van Investec, in ’n kort kommentaar wat uitgestuur is.

Die S&P 500 het Woensdag 3,3% geval en die Nasdaq het met 4,1% gedaal.

Volgens hom is dit die Nasdaq se grootste val sedert die nasleep van Brittanje se referendum op 24 Junie 2016 om die Europese Unie te verlaat.

Volgens hom is dit die Nasdaq se grootste val sedert die nasleep van Brittanje se referendum op 24 Junie 2016 om die Europese Unie te verlaat.

“Beleggers skryf die situasie toe aan ’n vertraagde reaksie op die onlangse styging in die koerse van Amerikaanse staatseffekte, wat die hoë waardasies van sekere maatskappye, veral die bruisende (frothy) tegnologiesektor.”

Die sentiment het Donderdagoggend na Asiese markte oorgespoel waar die Topix 3,9% en die Hang Seng 4% laer is.

Chinese aandele kry veral houe met die Shanghai saamgestelde indeks wat tans op vlakke is wat laas in 2014 gesien is en 4,8% laer is.

Nie ’n dag gaan verby dat ons nie na die handelsoorlog verwys en besin oor die moontlike nagevolge van die maatstawwe wat ingestel is nie.
Nema Ramkhelawan-Bhana

Termynkontrakte wat op aandele uitgeneem is, toon die Amerikaanse en Europese aandeelmarkte gaan ook vandag laer open.

RMB se valutaspan het in sy nuusbrief gesê “internasionale aandele toon die grootste verlies sedert Februarie omdat beleggers vrese oor maatskappywinste weens die handelsoorlog het”.

Boonop demp die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se “oordeelsdag-scenario” vir opkomende markte beleggers se aptyt vir risiko.

“Nie ’n dag gaan verby dat ons nie na die handelsoorlog verwys en besin oor die moontlike nagevolge van die maatstawwe wat ingestel is nie.”

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Market se navorsingspan, sê internasionaal byt aandele die spit af van beleggers se kommer oor die impak wat die handelsoorlog gaan hê.

“Aandele se waardasies neem stelselmatig af terwyl beleggers die skade bevraagteken wat die handelsdispuut aan maatskappye se winste gaan veroorsaak te midde van leningskoste wat begin styg.”

Volgens haar maak markte hulle reg vir ’n ineenstorting soos wat in Februarie gesien is. Die sogenaamde vreesindeks, die VIX, het deur die dag tot op sy hoogste vlak in sewe maande opgeskiet.

Volgens haar het die IMF gewaarsku dat nog ’n valuta- en likiditeitskrisis in opkomende markte kan kom en het lande gewaarsku teen die risiko van ’n snelle uitvloei van kapitaal uit die markte uit.

Dit het die rand laat rond spring om Woensdag die vorige dag se versterking uit te wis. Die rand het Woensdagaand op R14,75, vergeleke met die vorige dag se R14,55, gesluit.

Dit het Donderdagoggend amper weer met 10c versterk.

Sy meen in hierdie omgewing kan die rand dalk gedurende die dag weer deur R15 breek.

Meer oor:  Rmb  |  Rand Merchant Bank  |  Jse  |  Naspers  |  Nema Ramkhelawan-Bhana  |  Aandelebeurs  |  Markte  |  Handelsoorlog  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.