Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
JSE kruip versigtig op, maar rand bly agter

Die JSE het Donderdag positief geopen nadat die mark Woensdag die eerste keer in ses dae weer hoër gesluit het.

Foto: Elvira Wood

Anchor Capital sê die mark het hoër gesluit nadat Amerika se Federale Reserweraad (Fed) aangedui het dié land se styging in inflasie is tydelik.

Adriaan Pask, beleggingshoof van PSG Wealth, sê in ’n nuusbrief die meeste markte in die wêreld het Woensdag op ’n hoë noot geëindig nadat Jerome Powell, voorsitter van die Fed, beleggers gerusgestel het dat dié sentrale bank nie te vinnig rentekoerse sal verhoog of slegs uit inflasievrees nie.

Dit kom nadat die Fed markte verlede week ontstig het toe hy ná sy monetêrebeleidskomiteevergadering aangedui het rentekoersverhogings kan dalk ’n jaar vroeër kom as wat verwag is.

Pask sê die plaaslike mark het verlede week laer gesluit weens kommer oor die derde vlaag van infeksies, veral in Gauteng, wat die finansiële middelpunt van die land is.

Izak Odendaal en Dave Mohr, beleggingstrateë van Old Mutual Wealth, sê die vergaderings van die Fed-komitee is altyd groot nuus vir internasionale markte aangesien dit die weg van die wêreld se belangrikste rentekoers bepaal.

Feitlik alle finansiële bates word op die een of ander manier direk of indirek op die Fed se rentekoers geprys.

Daar gebeur meestal nie veel op die vergaderings nie, maar soms kan ’n effense verskuiwing in die Fed se beleidsvooruitsigte ’n aansienlike markreaksie veroorsaak, soos verlede week die geval was, sê hulle.

Die Fed is in wese ’n sentrale bank vir die wêreld, meen hulle.

Sy doel is egter om ’n gemiddelde inflasiekoers van 2% oor tyd te verseker en maksimum indiensneming van Amerikaners.

Hoewel ’n moontlike rentekoersverhoging in Amerika nog ver weg is, het die markte begin om dit in te prys.

Volgens Odendaal-hulle is die inflasievooruitsig van deurslaggewende belang.

Inflasie het vinniger gestyg as wat verwag is, aangesien die heropening van die ekonomie verskeie tekorte en bottelnekke tot gevolg gehad het. In eenvoudige terme het die vraag gouer herstel as wat die aanbod kan reageer, sê hulle.

Die Fed glo die verhogings sal waarskynlik tydelik wees namate die aanbod styg om in die vraag te voorsien.

Lank voor die rentekoersverhogings sal die Fed sy maandelikse aankope van skuldbriewe in die skuldmark (kwantitatiewe verruiming) afskaal en uiteindelik stop. Powell het verlede week aangedui die komitee begin dit nou bespreek.

Die JSE het Woensdag 0,4% of 267 punte hoër op 65 819 gesluit.

Donderdagoggend het dit met 0,5% of 355 tot 66 174 toegeneem.

Die grootste styging in die indeks van top-40-aandele van 8% is deur Old Mutual gelewer nadat hy aangekondig het ’n belang van R10 miljard in Nedbank gaan aan sy aandeelhouers ontknoop word.

Die ander stewige stygings is van die mynmaatskappye Exxaro, Northam Platinum en Implats, wat almal meer as 2% gestyg het.

Capitec, Standard Bank en Absa het ook omtrent 2% gestyg.

Dit lyk of die mark mik vir ’n beter week ná twee weke van dalings.

Die indeks van alle aandele van die JSE is egter goed op dreef om dié maand die eerste keer in agt maande sedert Oktober laer te sluit, volgens markinligting van Iress.

Die mark het einde Maart op 67 964 gesluit.

Bloomberg berig hoewel markte gestabiliseer het ná die gerusstellende kommentaar van Powell, word ekonomiese data en nog kommentaar van Fed-amptenare met aandag dopgehou.

Later Donderdag in Amerika word syfers oor bestellings van duursame goedere en werkloosheid ingewag.

Absa sê in ’n nuusbrief die aandelemarkte van Wall Street in New York het naby hul rekordhoogtepunte verhandel omdat vooruitsigte van ’n ekonomiese herstel die vrese oor inflasie wat vinniger gaan styg, oortref het.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, het Maandag in ’n nuusbrief gesê buitelanders het sedert verlede week se Fed-vergadering R4,5 miljard se skuldbriewe en R5,5 miljard se aandele meer verkoop as wat hulle aangekoop het.

Rand boer by R14,20

Die rand het ná sy skerp verswakking teen die dollar verlede week weer effens versterk, maar bly meestal rondom R14,20 verhandel.

Die kommentaar Donderdag van Powell het nie opkomende markte se geldeenhede gehelp nie omdat ander amptenare later gesê het die hoër inflasie kan langer duur.

Dié kommentaar tesame met verlede week se onverwagte nuus van die Fed, het beleggers senuagtig gemaak oor wanneer rentekoerse verhoog gaan word.

Die rand het teen 12:00 teen R14,21 verhandel.

Lukman Otunuga, senior ontleder van FXTM, sê randbulle het ’n hernude inspuiting van vertroue gekry omdat stygende inflasie in Suid-Afrika verwagtinge oor rentekoersverhogings aangewakker het.

Jaarlikse inflasie het in Mei tot 5,2% geklim van 4,4% die vorige maand, die hoogste sedert November 2018.

Otunuga sê dis interessant dat die rand Donderdag op ’n wankelrige noot betree het en teen al die groot geldeenhede verswak het.

Hy meen dit kan verband hou met die versigtigheid wat heers terwyl beleggers probeer sin maak van die gemengde seine wat die Fed uitstuur.

Hy sê nog iets wat die rand swak hou, is die Covid-19-pandemie, die impak op Gauteng en die ekonomiese herstel.


Meer oor:  Rand  |  Dollar  |  Inflasiekoers  |  Jse  |  Aandeelpryse  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.