Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
JSE kry vir eers bloedneus oor ZAR X
Die JSE

Die JSE se poging om ’n stokkie voor ’n tweede aandelebeurs te steek, is tydelik gefnuik.

Die Raad op Finansiële Dienste (RFD) se appèlraad het die JSE se dringende aansoek om die besluit op te skort om ’n lisensie aan ZAR X te gee om ’n beurs te bedryf, van die hand gewys.

Regter Louis Harms, adjunkvoorsitter van die appèlraad, het luidens ’n verklaring in sy uitspraak gesê daar is geen bewyse dat die JSE skade gaan lei of benadeel gaan word nie.

Volgens hom was die JSE se aansoek gegrond op die moontlike skade wat dit aan die finansiële stelsel van die land en sy beleggers kan aanrig. Hy meen die JSE bespiegel hieroor.

Die JSE se dringende aansoek vir tussentydse verligting is aanhangig gemaak hangende die aanhoor van die JSE se appèl teen die besluit van die RFD om ’n lisensie aan ZAR X te gee om ’n beurs te bedryf.

Dié appèl gaan nog aangehoor word.

Die RFD het begin September aan ZAR X ’n beurslisensie onderhewig aan voorwaardes toegestaan.

’n Beurslisensie is ook toe aan 4 Africa Exchange toegestaan.

ZAR X het vroeër die jaar by die RFD vir ’n lisensie aansoek gedoen.

Die RFD het aanvanklik ’n voorlopige lisensie toegestaan en die JSE het daarteen beswaar gemaak omdat die wet nie daarvoor voorsiening maak nie.

Die RFD se appèlraad het op 1 Augustus die JSE gelyk gegee en het opdrag gegee dat die voorlopige lisensie teruggetrek word.

Solly Keetse, hoof van die direktoraat van markmisbruik van die RFD, het gesê die JSE het die dringende aansoek om die besluit op te skort om die beurslisensie aan ZAR X te gee, op 12 September gebring.  

Meer oor:  Hofaansoek  |  Zar X  |  Aandelebeurs  |  Raad Op Finansiële Dienste  |  Jse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.