Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
JSE snel verby 66 000 vir nuwe rekord

Die JSE boer steeds op hoogtepunte nadat die kerf van 65 000 punte Maandagaand vir die eerste keer met die sluiting van die mark verbygesteek is.

Die JSE se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Getty Images

Dié punt is op 25 Januarie vir die eerste keer gedurende die daaglikse verhandeling verbygesteek, maar die mark het toe die dag op 64 559 gesluit.

Dinsdag het die mark hoër gebeur en op 65 162 gesluit.

Woensdag was die indeks volstoom op pad na 66 000 en dit die dag met 1,5% of 988 punte tot 66 151 gestyg het.

Vestact-batebestuurders sê die JSE het met die kerf van 65 000 wat verbygesteek is, die jaar se tendens van nuwe hoogtepunte voortgesit.

Sedert begin Januarie het die indeks vir die eerste keer verby 62 000 gestoot en ook die 63 000- en 64 000-kerf vir die eerste keer verbygesteek.

Dit volg nadat die indeks middel Desember weer vir die eerste keer bo 60 000 begin styg het sedert Augustus 2018.

k

Paul Theron, ’n portefeuljebestuurder van Vestact, sê om in die JSE te belê was taai die afgelope jare. Hy sê die beurs het die eerste keer die 60 000-kerf einde 2017 verbygesteek. “Dit beteken dit het die mark meer as drie jaar geneem om 8% te styg tot 65 000 punte. Die hartseer werklikheid is dat die mark nie eens oor daardie tyd inflasie geklop het nie.”

Beleggersentiment het internasionaal verbeter in vooruitsig van ’n stimulus in Amerika en die wyer verspreiding van koronavirus-entstowwe.

Amerikaanse markte het ook aan die begin van vandeesweek nuwe hoogtepunte bereik danksy handelsverslae wat sterk verkope oor die vakansietyd getoon het en die nuus van meer stimulusbesteding wat die ekonomie kan help.

Die S&P 500 en Dow Jones het Maandag op hul hoogste vlak tot nog toe gesluit met ses dae se stygings agter die blad. Dinsdag het hulle egter weer laer gesluit.

“Die mate waartoe wêreldmarkte Suid-Afrikaanse beleggings met hulle saam kan sleep, moet nooit onderskat word nie,” sê Izak Odendaal en Dave Mohr, beleggingstrateë van Old Mutual Wealth.

Die indeks van alle aandele het van laat in Maart 2020 af ná sy skerp val weens pandemie-vrese ’n opbrengs van 48% gelewer.

“Niks het dramaties verander gedurende die tydperk in Suid-Afrika nie, behalwe dat die waarskynlikheid van die meer pessimistiese ekonomiese scenario’s afgeneem het.”

’n Aandelemakelary het in ’n nuusbrief gesê aandele wat meestal aan die Suid-Afrikaanse ekonomie blootgestel is, het sterk begin styg nadat die handelsoorsigte van kleinhandelaars en nywerheidsmaatskappye beter as die verwagting was.

Anchor Capital sê die JSE het Dinsdag hoër gesluit danksy ’n styging in bankaandele, beleggers wat die vooruitsigte op ’n Amerikaanse stimulus verteer, asook internasionaal dat entstowwe verder versprei word.

Terwyl hulpbronaandele in Januarie die JSE help lig het, het nywerheidsaandele en groot finansiële aandele sedert begin Februarie die mark verder opgestoot.

Terwyl hulpbronaandele 3% tot dusver vir die maand gestyg het, het finansiële en nywerheidsaandele onderskeidelik met 6% en 4,4% gestyg.

Riscura se inligting toon die indeks van maatskappye met ’n klein markwaarde het met 7% tot dusver in Februarie en die indeks van maatskappye met 'n middelslagwaarde met 5% gestyg.

Volgens Reuters het die MSCI-wêreldindeks ’n nuwe hoogtepunt oornag Dinsdagaand bereik, terwyl die indeks van Asiatiese aandele van die MSCI ook sy vorige rekord van Januarie verbygesteek het.

Mpho Molopyane, ’n ekonoom van RMB, sê ook beleggingsentiment is wêreldwyd steeds besig om te verbeter, aangevuur deur die hoop op ’n Amerikaanse stimuluspakket, optimistiese handelsverslae en die verwagting dat sentrale banke internasionaal rentekoerse vir nog lank laag gaan hou om die wêreldwye ekonomiese herstel te help.

Molopyane sê die rand en ander ontluikende markte se geldeenhede hou hul bestendige versterking teenoor die dollar vol. Die dollar bly op sy beurt onder druk omdat die groeiende optimisme oor die wêreldwye herstel meer riskante bates ’n hupstoot gee.

Die rand het met 16% versterk sedert einde Maart toe hy op R19 teen die dollar was. Die rand het vandeesweek versterk tot sy sterkste vlak in meer as ’n maand tot R14,71.

Meer oor:  Markte  |  Jse  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.