Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
JSE sluit op laagste vlak in 15 maande

Die JSE het Vrydag op die laagste vlak in 15 maande gesluit ná ’n slagting op aandelebeurse wêreldwyd die afgelope week.

Dit word toegeskryf aan paniek oor die koronavirus, met die een maatskappy ná die ander – insluitend Amerikaanse reuse soos Microsoft, Anheuser-Busch InBev en Apple en plaaslike firmas soos Woolworths, Shoprite, Steinhoff en Bidcorp – wat aangedui het hoe die virus hul verkope gaan raak.

Dis omdat fabrieke en hawens in China net nie behoorlik op dreef kom sedert die virus midde-in die Chinese Nuwejaarsvakansie versprei het nie.

LEES OOK: Koronavirus gee SA wynuitvoerders ’n kopseer

Die JSE se indeks van alle aandele het Vrydagoggend binne ’n kwartier ná sy opening met amper 5% geval.

A woman walks past a bank electronic board showing
'n Vrou loop by 'n elektroniese bord van die aandelemark in Hong Kong verby. Aandele het skerp gedaal die week. Die Dow Jones het Donderdagaand die grootste val in sy geskiedenis getoon. Foto: AP

Die sluiting van 51 038,18 punte was die laagste in 15 maande.

Sedert 17 Februarie het die JSE sewe uit nege handelsdae geval vir ’n totale daling van 12,3%.

Persentasiegewys het die goudmaatskappy Gold Fields die meeste verloor, met ’n daling van byna 17%, maar volgens markwaarde was dit Naspers, wat 5,5% laer gesluit het, wat die beurs die meeste afgetrek het.

Die JSE het in die spore gevolg van die chaos wat Donderdag op Amerikaanse aandelebeurse geheers het.

In Amerika het chaos geheers op Wall Street ná paniek versprei het oor die koronavirus. Die bekende Dow Jones-nywerheidsindeks het sy ergste val in sy geskiedenis gehad toe hy met 1 191 punte geval het. Dit het 4,4% laer gesluit. Ook die S&P 500-indeks het 4,4% en die Nasdaq het 4,6% laer gesluit.

Vrydag het die slagting voortgeduur, met die Dow Jones nóg 3,9% laer teen 17:30 Suid-Afrikaanse tyd, die FTSE 100-indeks in Londen 4,6% laer.

Die chaos op markte het ook die rand teen die toue. Die geldeenheid het Vrydag selfs R15,71 teenoor die dollar getref, en was om 17:00 steeds R15,64.
Die JSE het 28 Februarie na sy opening skerp geval, toon die grafiek van Iress.
Die JSE was op sy laagste vlak in meer as ‘n jaar, toon Iress.

Meer oor:  Moody's  |  Wall Street  |  Indeks Van Alle Aandele  |  Jse  |  Koronavirus  |  Dow Jones
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.