Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
JSE-vertoning in Zuma-jare wurg jou pensioengeld

Die ekonomie groei skaars. Die politieke toneel is – laat ons dit maar sagkens stel – oninspirerend. Infrastruktuur verkrummel en die direksies en besture van die staat en staatsbeheerde instellings druk ons swaarverdiende rande in hul sak.

Pres. Cyril Ramaphosa: Kan sy afgelope staatsrede vuur maak onder die ekonomie – en ons pensioenfondse? Foto: Getty Images

Intussen betaal ons net meer en meer vir noodsaaklike dienste. Misdaad bly hoog en korruptes/staatskapers word nie in die tronk gestop nie. Baie dele in die land gaan steeds gebuk onder droogte.

Nie heeltemal die prentjie wat ’n mens geskets wil hê aan die begin van ’n nuwe jaar nie. En hopelik is die lys omtrent volledig . . . of nie?

Natuurlik sal pessimiste baie meer goed kry om by te voeg. Optimiste sal die lys waarskynlik kan uitbalanseer met meer positiewe dinge.

Een groot knelpunt – wat wel nog op die lys hoort – is die kwessie van die aandelemark se swak vertoning. Ek voel inderdaad redelik weemoedig as ek na my pensioenfonds se prestasie oor die afgelope vyf jaar kyk.

Onderbewustelik wil ’n mens maar die heeltyd glo dat, oor ’n vyfjaartydperk, die JSE ten minste vir jou ’n jaarlikse totale opbrengs van so 8% in reële terme (dit wil sê ná inflasie) sal gee.

Die JSE-gebou in Sandton, Johannesburg. Die indeks van alle aandele het oor die afgelope vyf jaar bykans geen reële opbrengs gelewer nie.Foto: VERSKAF

Dit was immers die gemiddelde vir alle vyfjaartydperke sedert 1930. Vir vyfjaartydperke sedert 1994 was die gemiddelde reële opbrengs 8,8% per jaar, en sedert 1998 was dit 10,1% per jaar.

Indien ’n mens ’n reële opbrengs van 8% veronderstel en inflasie van so 5% per jaar bytel, kom jy by 13% per jaar in nominale terme uit.

So ’n opbrengs is genoeg om ’n mens se kapitaal elke vyf tot ses jaar in nominale terme te verdubbel sonder dat jy enige verdere kapitaalbydraes doen.

Vir die vyf jaar van begin 2014 tot die einde van 2018, was die gemiddelde reële opbrengs van die JSE se indeks van alle aandele egter -0,01% per jaar – dus eintlik geen reële opbrengs nie.

Ons weet almal die aandelemark kan – veral oor kort tydperke – skerp terugsak. Interessantheidshalwe was die swakste enkele kalenderjaar op die JSE sedert 1925 in 1998, toe die mark met 29,6% (reëel) teruggesak het. Ander uiters swak jare was 1970 (-29,2%); 1952 (-23,8%); en 1937 (-21,7%).

Dit is nogtans interessant om te sien hoeveel ander tydperke – langer as vyf jaar – van 0%- reële opbrengs die JSE al beleef het en wanneer dit was.

  • September 1927 tot einde Julie 1932 en September 1935 tot einde Julie 1940: Hierdie twee tydperke, wat elk vier jaar en 11 maande geduur het, dek die grootste deel van die Groot Depressie-tydperk. Dit het amptelik geduur van die Amerikaanse aandelemark se ineenstorting in 1929 tot en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939.
  • Januarie 1943 tot September 1953: Hierdie tydperk van tien jaar en nege maande, wat ook die laaste twee jaar van die Tweede Wêreldoorlog insluit, is die langste ná-1925-tydperk van 0%-opbrengs. Daar was in der waarheid ’n ietwat stygende mark van 1943 tot 1948, maar in die eerste helfte van 1948 het die mark ’n groot insinking begin beleef. Die Nasionale Party (NP) het Suid-Afrika se betrokkenheid by die Tweede Wêreldoorlog heftig teengestaan, wat tot groot onstuimigheid in die party-politieke landskap gelei het.
  • Januarie 1948 tot September 1953: Ná die verkiesingsoorwinning van die NP in koalisie met die Afrikanerparty, het die mark ’n lang swakte beleef wat in dié tydperk ’n 57%-daling in mark-opbrengs meegebring het.
  • Januarie 1965 tot Oktober 1971: Behalwe vir die feit dat die NP sy mag in die middel van die 1960’s gekonsolideer het, wat tot toenemende binnelandse verset en ook buitelandse politieke druk gelei het, het die ekonomie eintlik ’n bloeitydperk en hoë vlakke van groei beleef. Die swakte in die aandelemark in hierdie tydperk is dus ietwat vreemd, totdat ’n mens na die verloop van die Dow Jones-nywerheidsindeks kyk. Hierdie Amerikaanse aandele-indeks het in dié tydperk met 41% gedaal.
  • Maart 1993 tot Augustus 1998: Die oorgang na demokrasie in 1994 het heelwat onsekerheid geskep met gevolglike kapitaalvlug. Die Dow Jones het van Maart 1993 tot Julie 1994 met 127% gestyg, alvorens dit in Augustus 1998 met 15% geval het. Die redes vir die JSE se swakheid was dus feitlik uitsluitlik weens plaaslike onsekerheid.

Hoewel Jacob Zuma dit heftig sal ontken, is die swak aandelemark-opbrengs van die afgelope vyf jaar grotendeels ook sy nalatenskap. Die Dow Jones het immers in hierdie tydperk met 38% gestyg. Met populistiese beleidsrigtings, staatskaping en korrupsie onder sy “leierskap”, het die ekonomie die afgelope vyf jaar maar slegs met effens meer as 1% per jaar gegroei.

Oudpres. Jacob Zuma: Die swak aandelemark-opbrengs van die afgelope vyf jaar is grotendeels sy nalatenskap.Foto: Daily Sun

Die vraag is of dit oor die volgende vyf jaar beter sal gaan. Ongelukkig ken niemand die antwoord op hierdie vraag nie. Die beste hoop wat ons het, is dat ekonomiese groei minstens ná vanjaar se verkiesing die regte rigting sal inslaan. Dit sal die aandelemark ondersteun.

Dit wil tog lyk of die verdienstegroei van JSE- genoteerde maatskappye opwaarts begin neig. Verdienstegroei was negatief van Augustus 2015 tot Februarie 2017, maar is sedertdien positief, met ’n gemiddelde groei van 9,5% vir die afgelope 12 maande.

Laat ons hoop dat pres. Cyril Ramaphosa se afgelope staatsrede die vonk sal gee wat nuwe vuur in die ekonomie – asook die JSE en ons pensioenfondse – blaas.

  • Christo Luüs, ’n ekonoom van EcoQuant, is ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Jse  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Sakesiening  |  Aandeelmark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.