Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Jy kan weer jou tas pak vir ’n eilandvakansie

Suid-Afrikaners kan weer begin beplan aan salige eilandvakansies met Mauritius en die Seychelle wat hulle weer toelaat om daarheen te reis.

Suid-Afrikaners is nou weer welkom in Mauritius en die Seychelle. Foto: Pixabay

Die agentskap in Mauritius wat verantwoordelik is vir die bemarking van die eiland se toerismebedryf het verlede week aangekondig die 18 maande lange reisverbod op Suid-Afrika is op 10 September opgehef.

Slegs reisigers wat ten volle ingeënt is, mag in hotelle en ander verblyfgeriewe soos vakansieoorde tuisgaan sonder dat hulle in kwarantyn was.

Hierdie besoekers mag ook vrylik op die eiland rondbeweeg.

Besoekers aan en reisigers na Mauritius wat nie ingeënt is nie, of nie ten volle ingeënt is nie, moet steeds vir 14 dae in kwarantyn bly in een van die owerhede se aangewese kwarantynfasiliteite.

Kinders van jonger as 18 wat saam met ’n volwassene reis wat alle inentings agter die rug het, hoef nie ingeënt te wees nie.

Alle reisigers moet wel ’n negatiewe Covid-19-toets kan indien wat binne 72 uur voor vertrek ontvang is.

Direkte vlugte tussen Suid-Afrika en die eiland op Air Mauritius hervat op 1 Oktober.

Comair se vlugte tussen Johannesburg en Mauritius vlieg weer vanaf 30 November.

Die Seychelle se minister van gesondheid het ook goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat graag na hierdie eilandstaat wil reis.

Suid-Afrika is nie meer op die eilandstaat se lys van lande waarvoor reisbeperkings geld nie – wat beteken Suid-Afrikaanse reisigers mag vanaf Maandag weer na die Seychelle reis.

Die Seychelle sonder ook nie besoekers uit volgens hul inentingstatus nie. Volgens die owerhede speel reisigers van toegelate lande se inentingstatus glad nie ’n rol nie, hoewel hulle ten sterkste aangemoedig word om wel vir inentings te gaan voordat hulle die Seychelle besoek.

Geen verpligte kwarantyn geld dus nie en besoekers wat nie ingeënt is nie, mag óók daarheen reis en met hul aankoms dadelik met hul eilandvakansie begin.

Slegs reisigers vanaf Bangladesj, Brasilië, Nepal en Pakistan mag volgens Tourism Update  nog nie na die Seychelle reis nie.

Alle reisigers moet ook soos in die geval van Mauritius bewys kan lewer van ’n negatiewe Covid-19-toets wat nie langer as 72 uur voor vertrek ontvang is nie. Daar is ook spesifieke vorms wat reisigers moet voltooi en reisversekering wat kwarantyn, isolasie en behandeling dek ingeval van infeksie met die koronavirus ten tye van die besoek.

LEES OOK: Reisigers se vlerke na Seychelle geknip

Volgens die Seychelle se minister van buitelandse sake en toerisme is meer as 71% van die bevolking ten volle ingeënt en die inenting van jong mense tussen 12 en 18 jaar oud vorder goed.

Meer oor:  Seychelle  |  Covid-19  |  Reis  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Reisverbod  |  Bestemmings  |  Delta-Variant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.