Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kaapstad-hawe: Vergeet my nie

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa R100 miljard se belegging oor die volgende dekade aan die Durbanse hawe belowe het, is Kaapstad bang dat die hawe in die skadu van Tafelberg aan die agterspeen gaan suig.

’n Uitsig op die Kaapse hawe.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het Woensdag gesê die Wes-Kaapse regering het aan Ramaphosa geskryf en gevra dat hy Kaapstad ook dringend besoek en ingryp, want die verouderende toerusting wat kort-kort breek, veroorsaak toenemend vertragings in die hawe.

Terwyl Transnet aansienlike beleggings oor die volgende twee jaar aan Durban, Richardsbaai, Mosselbaai en Gqeberha (Port Elizabeth) belowe het, is niks onlangs van Kaapstad genoem nie.

Maynier het Ramaphosa geloof vir die belofte van vennootskappe met die private sektor om nuwe beleggings, tegnologie en kundigheid na die Durbanse hawe te lok. Maar hy is besorg dat geen melding gemaak is van soortgelyke vennootskappe met die private sektor wat Kaapstad betref nie.

Kaapstad is ’n belangrike uitvoerhawe vir die wyn- en vrugtebedryf in die Wes-Kaap, asook ’n kritieke invoerhawe vir olie en brandstof vir die plaaslike raffinadery en brandstofverbruikers.

Nisbedrywe soos die vervaardigers van luukse seiljagte in Kaapstad is ook afhanklik van die hawe om hul produkte na kopers oorsee te neem.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede.

Maynier het gewys op meer as 5 000 voorvalle waarin toerusting in die afgelope boekjaar in die Kaapse hawe gebreek het. Dit kom neer op 14 voorvalle per dag, en volgens hom is die rede grootliks omdat die toerusting al hoe ouer word.

“Elke keer as iets breek, is daar vertragings wat ’n sneeubaleffek het oor die hele voorsieningsketting, wat vasmeertye en vragmotor-omkeertye uitstel. Die algemene kwessie van stadige diens het al veroorsaak dat skeepsrederye nie meer die hawe wil aandoen nie.”

Volgens Maynier het die spesiale taakspan wat die Wes-Kaapse regering op die been gebring het om die probleme te pak, al ’n paar suksesse behaal, maar “tensy die nasionale regering ingryp, sal min gebeur wat die belangrike aspek van infrastruktuurbelegging betref”.

Maynier het lof gehad vir die bestuur van Transnet Port Terminals, die filiaal van Transnet verantwoordelik vir vraghantering, maar hy meen uitvoer sal nie kan toeneem as die infrastruktuurprobleme nie dringend getakel word nie.

Dit volg op verskeie vertragings en opeenhopings in die Kaapse hawe die afgelope maande – deels weens koronavirus-infeksies onder werkers, maar ook weens stormsterk winde, wat daartoe lei dat van die houerhyskrane nie kan werk nie.

Felicity Purchase, burgemeesterskomiteelid vir vervoer van die Kaapstad-metro, het selfs in Maart gesê sy wil met Transnet praat om alternatiewe opsies vir die uitbreiding van die Kaapse houerkaai te ondersoek – soos om Saldanha as houerhawe te ontwikkel of selfs ’n nuwe hawe naby Atlantis te ontwikkel.

Transnet het nog nie op navrae gereageer nie, maar het wel in die verlede al planne gewys oor die noordwaartse uitbreiding van die Kaapse houerkaai om houerhanteringsvermoë te verdubbel en groter houerskepe te kan akkommodeer.

Meer oor:  David Maynier  |  Durban  |  Kaapstad  |  Invoer  |  Uitvoer  |  Vervoer  |  Hawens  |  Infrastruktuur  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.