Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kaapstad kap terug oor Moody’s se afgradering

Net ’n maand gelede het Moody’s Investors Service nog die Stad Kaapstad as een van die beste metro’s in die land geag – nou is dit afgegradeer.

Leeukop is sigbaar uit die kajuit van ’n vliegtuig bo Kaapstad. Foto: Getty Images

Die munisipaliteit sê Dinsdag in ’n verklaring dit maak glad nie sin dat die kredietgradeerder hom skielik met verskeie ander metro’s in die land vir ’n afgradering van sy kredietwaardigheid saamgebondel het nie.

Moody’s het Vrydag in ’n skielike besluit vier metro’s en een plaaslike munisipaliteit verder in rommelstatus in afgegradeer weens, wat hy noem, die agteruitgang van plaaslike regerings se vermoëns om inkomste te genereer.

Maar Kaapstad sê sy vermoë om inkomste te genereer is die beste in die land en is ten spyte van die koronaviruspandemie se uitwerking op plaaslike regerings se koffers baie gesond.

“Die stad is van mening dat sy kontantvloei veerkragtig is met ’n invorderingskoers van 98,9% – ’n koers wat ongekend onder Suid-Afrikaanse munisipaliteite is,” sê die munisipaliteit in ’n verklaring.

“Dit is in werklikheid een van die redes waarom Moody’s in ’n onlangse verslag, op 10 Junie, verklaar het dat hy die stad se kredietgradering vanweë die metro se ‘sterk finansiële prestasie, ondersteun deur omsigtige finansiële bestuur’ handhaaf.

“Die stad se kontantposisie bly ook positief om sy voortgesette skuldverpligtinge en ander toekomstige verpligtinge soos die terugbetaling van effekte na te kom. Daarbenewens is die kontantvloei van die stad voldoende om die implementering van sy kapitaalprogram vir 2021-’22 voort te sit.”

Die munisipaliteit sê dié veralgemening is strydig met die Junie-verslag, wat Kaapstad juis uitsonder.

Die munisipaliteit se bedryfskapitaal is tans gelyk aan ongeveer 1,9 maande se besteding. Die nasionale tesourie se riglyne is dat munisipaliteite bedryfskapitaal van tussen een tot drie maande se uitgawes moet hê, wat beteken dat die stad binne dié norm val.

Moody’s het Vrydag groot kommer uitgespreek oor munisipaliteite se vermoëns om met kapitaalbesteding en beleggings in infrastruktuur voort te gaan.

Moody’s het gesê die inkomste van plaaslike regerings wat hy afgegradeer het, is in so ’n mate onder beleg dat hy nie kan sien hoe hulle verdere skokke sal kan oorleef nie. Hy voorsien dus munisipaliteite sal vir die afsienbare toekoms aan kapitaalbesteding moet besnoei.

Dit sal weer lei tot verdere ineenstortings van dienslewering en ’n toenemende agterstand in infrastruktuurlewering terwyl ’n enorme agterstand reeds heers.

Moody’s het Kaapstad en al die ander plaaslike regerings wat deur die afgradering geraak word, boonop onder hersiening met die moontlikheid van verdere afgraderings geplaas.

Die munisipaliteit sê dié veralgemening is strydig met die Junie-verslag, wat Kaapstad juis uitsonder.

Hy het nou amptelik aan Moody’s geskryf om die besluit te hersien.

Meer oor:  Munisipaliteite  |  Rommelstatus  |  Kredietgradering  |  Moody’S
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.