Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kaapstad soek antwoorde oor hulp aan kleinsake
Die staat wil kleinsake help om die invloed van die Covid-19-pandemie teen te werk. Foto: Unsplash

Die Kaapstadse metroraad wil weet hoeveel klein- en mediumsakeonderenings (SMME) in die Wes-Kaap gedurende die staat van inperking hulp van die nasionale regering gekry het.

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, sê in ’n verklaring net 4,2% van SMME’s oor die land heen het hulp gekry.

Hy het aan Khumbudzo Ntshavheni, minister van klein sakeontwikkeling, geskryf en gevra dat ’n lys saamgestel word oor hoeveel ondernemings in die Wes-Kaap aansoek gedoen het, hoeveel goedkeuring gekry het en hoeveel afgekeur is.

Ondernemings kon by die SMME-verligtingsfonds om finansiële hulp aansoek doen.

Op grond van inligting wat Ntshavheni beskikbaar gestel het, het Vos uitgewerk dat sowat 4,2% van die ondernemings wat aansoek gedoen het vir hulp goedgekeur is. Luidens die verklarings is 35 855 aansoeke ontvang waarvan 14 451 as aanvaarbaar geklassifiseer is en 1 497 hulp ter waarde van R513 miljoen ontvang het.

“Die minister wil ’n lys saamstel van al die ondernemings wat ondersteun is met ’n uiteensetting van die demografiese groeperings, wat ek verwelkom,” sê Vos.

Hy sê verder hy weet dat baie ondernemings baie erg onder druk is in dié ongewone tye en dat die vlak van verligting van staatskant nie genoeg is om op te maak vir die “yslike onderbreking in ons ekonomiese aktiwiteite nie”.

Vos het reeds ’n taakspan saamgestel om planne in plek te stel om die uitwerking van die pandemie te minimaliseer, maar ook om ’n sterker toekoms vir sakeondernemings en gevolglik vir Kapenaars te bou.

Daarom is die minister gevra vir die volgende inligting:

  • hoeveel van die 35 855 aansoeke wat ontvang is, van Kaapstad is;
  • die redes dat 21 414 aansoeke as onvoltooid geklassifiseer is;
  • hoeveel van die 21 414 afgekeurde ondernemings van Kaapstad is; en
  • hoeveel van die 1 497 suksesvolle aansoeke van Kaapstad is.

Die versoek sal die metroraad in staat stel om te weet wat die uitwerking van die krisis op ondernemings was en hom in ’n beter posisie plaas om te help.

“Ek is steeds vol vertroue dat Kaapstad se ekonomie sal verbeter. Ons het begin om ’n ekonomiese reddingsplan saam te stel wat sal fokus op die diverse sterkpunte van die stad. Dit sal ons help om ’n sterker en meer inklusiewe ekonomie te bou,” sê Vos.

Om te keer dat Kaapstad weer na ’n strenger inperkingsvlak geskuif kan word, is dit baie belangrik dat elke sakeonderneming die reëls volg en veiligheidsmaatreëls in plek stel sodat daar nie ’n negatiewe uitwerking is nie.

“Hierdie krisis het weer gewys hoe veerkragtig die inwoners en sakeondernemings is deur aan te pas by al die huidige uitdagings,” sê Vos.

“As ons almal saamwerk na dieselfde doel om lewens te red, weet ek ons sal hierdeur kom.”

Meer oor:  Kaapstad  |  Covid-19  |  Kleinsake  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.