Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kan die rand dié keer tot R20 per dollar val?

As die geskiedenis ’n aanduiding is van wat in die toekoms kan gebeur, kan die rand oor die volgende jaar tot sowat R20 teenoor die dollar verswak.

Elke keer as die Amerikaanse ekonomiese verlangsaam, verswak die rand wesenlik, sê RMB.

Dit is die siening van RMB Global Markets se strateeg John Cairns.

Cairns sê sedert 1994 het die rand vier uit vier keer wanneer die Federale Reserweraad (Fed) van Amerika met ’n siklus van rentekoersverlagings begin, in die daaropvolgende jaar skerp verswak.

“Dit is baie kommerwekkend gegewe dat dit baie seker is dat die Fed einde vandeesmaand rentekoerse gaan verlaag.”

Volgens hom versterk die rand aanvanklik die eerste paar maande nadat die Fed begin het om rentekoerse te verlaag.

Hy meen gegrond op die geskiedenis kan die rand dalk deur R13 breek wanneer dit gebeur. Die rand is tans op R13,83 teenoor die dollar.

Maar dan volg die skerp verswakking.

Hul ontleding toon die rand het met gemiddeld 30% binne 12 maande en met gemiddeld 40% binne 15 maande verswak ná rentekoersverlagings in Amerika.

“Dit is reusebewegings. Indien dit herhaal word, gaan die rand volgende jaar iewers in die omgewing van R20 per dollar wees.”

Hy meen die aanvanklike reaksie is omdat die verlaging van die rentekoers positief is. Dit veroorsaak ’n opbrengs-differensiaal en moedig die internasionale soeke van beleggers na ’n groter opbrengs aan.

Hy meen dit verduidelik dalk hoekom die rand die afgelope ses weke so goed vertoon het en hoekom dit aanvanklik goed vaar wanneer die Fed rentekoerse verlaag.

Hy meen egter daar moet gekyk word na die redes vir die verlaging.

“Dit is omdat die Fed bekommerd is oor ’n verlangsaming in die ekonomiese groei in Amerika. Dit is ’n teken dat iets skeefloop in die Amerikaanse ekonomie.

“Wanneer daardie verswakking kom, sien ons gewoonlik dat beleggers hul aptyt vir risiko verloor en dat hulpbronpryse verswak. Dit plaas druk op opkomende markte se geldeenhede soos gesien kan word in die skerp verswakking van die rand.”

Cairns sê elke keer as Amerika se ekonomiese groei skerp verlangsaam, verlaag die Fed rentekoerse. “En elke keer dat die ekonomiese groei verlangsaam, verswak die rand wesenlik.”

Volgens hom wys hul berekenings daar is ’n 47% of groter kans dat die rand dié ronde met 30% of meer kan verswak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.