Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kan Kaapse hawe skuif?

’n Nuwe debat het ontstaan oor of die Kaapstadse houerkaai moet skuif na ’n alternatiewe perseel by Atlantis of Saldanha.

Die stormsterk winde wat die hawe se bedrywighede knou of vertraag, belemmer die groei van die plaaslike ekonomie, meen Felicity Purchase, burgemeesterskomiteelid vir vervoer van die Kaapstad-metro.

Die Saldanha-hawe is in ’n natuurlike beskutte baai en is die diepste hawe in Suid-Afrika, maar is meer ingerig vir ysterertsskepe en olietenkskepe as vir houerskepe.

Purchase sê sy gaan met Transnet praat om alternatiewe opsies te oorweeg as om die Kaapse houerkaai uit te brei, soos om Saldanha as ’n vrag- en houerhawe te ontwikkel, of ’n perseel naby Atlantis. Albei die gebiede het nywerheidsontwikkelingsones wat benut kan word.

Kaapstad is al vir eeue bekend met die Suidooster wat in die somer soms vir dae aaneen teen stormsterkte waai en die hawebedrywighede ontwrig.

Die kabelkar tot op Tafelberg word vir tussen 70 tot 80 dae per jaar gesluit weens wind, en die aanduidings is dat Kaapstad weens klimaatsverandering in die toekoms net nog meer en sterker suidoostewinde sal moet trotseer.

“Ons kan nie die impak hiervan op kommersiële aktiwiteit ignoreer nie, veral aangesien die houerkaai in die sentrum van die strandgebied in Kaapstad is,” sê Purchase in ’n verklaring.

Die weerverwante vertragings in die hawe het die afgelope maande skeepsrederye genoop om die hawe oor te slaan, wat tot vertragings in in- en uitvoer gelei het.

Beplande uitbreidings

Die oorspronklike hawe is in die mees beskermde deel van Tafelbaai gebou, maar die houerkaai is op ’n verlenging van die herwinde deel van die strandgebied gebou wat die volle impak van die suidoostewind voel, verduidelik Purchase.

Transnet wou al lankal die houerkaai noordwaarts met nog 300 m uitbrei om die hanteringsvermoë met nog ’n miljoen houers per jaar te vergroot, maar Purchase meen dié planne behoort heroorweeg te word.

Om ’n ekstra ’n miljoen vraghouers te hanteer, en die gepaardgaande swaarvragmotorverkeer wat dit sal behels, sal ekstra druk op die verkeersweë in die stad plaas, veral in spitstye.

LEES OOK: Kaapse hawe: Met dié planne sal wagtyd krimp

Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA), na wie Purchase foutiewelik as “Portnet” verwys, het al in 2018 gewaarsku die impak van klimaatsverandering is reeds in die hawe te sien.

’n Koelvraghouer met sitrus bedoel vir uitvoer word hanteer by een van Transnet Port Terminals se houerdepots.

Nozipho Mdawe, destyds bedryfshoof van TNPA en tans waarnemende uitvoerende hoof, het toe gesê die breekwater in die hawe sal dalk verder verleng moet word om ’n groter gebied kalm water te skep. Dit is omdat al hoe langer en groter golwe opgemerk word.

Terry Gale, voorsitter van die Wes-Kaapse Uitvoerdersklub, meen ’n nuwe hawe elders is dalk ’n langtermynoplossing, maar doen niks aan die huidige situasie nie.

“Die hawe het dringende ingryping nodig en dit het begin met die aanstel van taakspanne om die huidige agterstande uit te wis.”

Saldanha is 110 km weg van Kaapstad en die skuif van die houervragbedrywighede soontoe sal die koste om sake te doen aansienlik verhoog, benewens die ekstra tyd en groter las op paaie, het Gale gewaarsku.

Saldanha

Saldanha is ontwikkel as ’n uitvoerhawe vir ystererts, en hanteer ook olietenkskepe wat olie op- en aflaai vir die Strategiese Brandstoffonds se olietenkplaas daar.

Dit is ’n dieper en ’n veiliger hawe as Tafelbaai, en is dalk vir vrugte-uitvoerders in die Olifantsriviervallei of die Ceres-gebied nader as Kaapstad as dit as alternatiewe houerhawe ontwikkel sou word.

Die bou van ’n heel nuwe hawe sal egter buitensporig duur wees, en daar is nie nog ’n natuurlike hawe langs die Weskus tussen Kaapstad en Saldanha nie. Dit is ook nie ’n uitgemaakte saak dat daar nie by enige nuwe haweperseel ook klimaatverwante uitdagings gaan wees nie.

  • Portnet was die ou naam van Transnet se hawe-afdeling. Dit is al in 2000, 21 jaar gelede, verander toe die destydse Portnet verdeel is in TNPA en SA Port Operations, wat later Transnet Port Terminals geword het.
Meer oor:  Transnet  |  Tnpa  |  Saldanha  |  Hawens  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.