Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kapitaalbesteding in die land bly te laag
Foto:

Bruto vaste kapitaalbesteding is die bedrag wat die owerheid, staatsinstansies en private sakeondernemings bestee aan kapitaaltoerusting, konstruksie en eiendom.

“Bruto” beteken dat sodanige besteding die bedrae insluit wat bereken word vir waardevermindering op vaste kapitaal.

Kapitaaltoerusting (masjiene, rekenaars, voertuie, ensomeer) is natuurlik nodig vir produksie. Maar enige onderneming wat belê in nuwe toerusting, wil darem ook redelik seker wees dat die aankoop en benutting van sodanige toerusting sal beteken dat sy produksie sal toeneem en/of meer doeltreffend sal plaasvind.

Daar is in baie internasionale studies al bewys dat hoër vlakke van kapitaalintensiteit (wat die kapitaalbesteding-BBP-verhouding is) oor tyd lei tot groter produktiwiteit, hoër ekonomiese groei en ’n styging in lewenstandaarde.

In Suid-Afrika het kapitaalintensiteit die afgelope drie dekades of so slegs twee keer die 25%-kerf oorskry: in 1985 en aan die einde van 2008. Die finansiële krisis het veroorsaak dat kapitaalintensiteit verminder het tot 18,7% in 2010 alvorens dit weer tot bykans 21% gestyg het aan die einde van 2013. Sedertdien het kapitaalintensiteit weer gedaal.

Christo Lüus, ekonoom van Third Circle Batebestuur

Stagnerende ekonomie

In die tweede kwartaal van 2016 het dit minder as 20% beloop. Boonop het dit plaasgevind teen die agtergrond van ’n stagnerende ekonomie.

In die tweede kwartaal van 2016 het bruto reële kapitaalbesteding met 14,2% (teen ’n jaarkoers) gedaal, vergeleke met ’n 10%-daling in die eerste kwartaal. Weens sakevertroue wat maar swak vertoon, het private kapitaalbesteding met 8,2% teruggesak terwyl openbare ondernemings se kapitaalbesteding 2% laer was.

Die groei in bruto kapitaalbesteding was in die tweede kwartaal in die meeste van die hoofsektore negatief. Die mynbousektor se kapitaalbesteding het met 29,8% (teen ’n jaarkoers) teruggesak, terwyl die sektor gemeenskapdienste, sosiale en persoonlike dienste met 6,3% gedaal het. Die elektrisiteit- en gassektor se kapitaalbesteding was ook 3,2% ­laer. Kapitaalvorming ten opsigte van konstruksiewerk het met 14,4% gedaal.

Ondoeltreffende aanwending van kapitaal

Daar is aanduidings dat groot staatsbeheerde instellings (SOE’s) verder gaan terugsny aan kapitaalbesteding. Gegewe die swak gehalte van bestuur by die meeste van hierdie instellings, sou baie mense reken dis ’n goeie ding. Maar in der waarheid is hierdie ’n simptoom van ’n diepliggende probleem wat verband hou SOE’s se ondoeltreffende aanwending van kapitaal, wat die land se langtermyn- ekonomiese groeivoor-uitsigte belemmer.

Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede het onlangs in ’n besprekingsdokument opgemerk dat daar in wese drie stelle finansiële probleme by SOE’s bestaan.

Die eerste is dat hul oorhoofse opbrengs op kapitaal nou negatief is en gedaal het van 7,5% in 2011-’12 tot -2,9% in 2014-’15.

Tweedens beteken die SOE’s se verliese dat staatsfinansies al hoe meer onder druk kom en dat dit die land se kredietgradering in gevaar stel.

Derdens beteken die swak balansstate van die SOE’s dat hulle probleme ervaar om die geld te bekom wat nodig is om die ekonomiese infrastruktuur in stand te hou en uit te brei.

Pravin Gordhan, minister van finansies, het reeds in Februarie in sy begrotingsrede gemeld dat die SOE’s dermate “gekaap” is dat beheermaat­reëls verlore gegaan het.

Diegene wat bepaalde transaksies binne hierdie instellings najaag, ondervind feitlik geen teenstand nie. Volgens die minister is dit ’n potensiële ramp.

Wat demp kapitaalbesteding in private sektor?

Die private sektor bly steeds verantwoordelik vir meer as 60% van die totale kapitaalbesteding in die ekonomie. Binnelandse en buitelandse vraag, sowel as die koste en beskikbaarheid van geld, is natuurlik belangrike oorwegings wanneer besluite oor kapitaalbesteding geneem word. Maar volgens navorsing van die Organisasie vir Ekonomiese Same­werking en Ontwikkeling (Oeso) is die belangrikste faktore wat die sakeklimaat ten opsigte van kapitaalbestedingsbesluite beïnvloed beperkende en beswarende regulasies; belastings en ander koste vir ondernemings; asook beleids- en regulatoriese onsekerheid.

Spesifieke onsekerhede wat Suid-Afrikaanse ondernemings in die gesig staar, sluit in onsekerheid oor pres. Jacob Zuma se planne; onsekerheid oor die toekoms van Gordhan; onsekerheid oor die regering se erns en vermoë om die vernietigende, misdadige “studente”-onluste stop te sit; en onsekerheid oor of en wanneer die land se kredietgradering tot rommelstatus gaan daal.Daadwerklike ingryping sal nodig wees om die SOE’s op gesonde voet te plaas en om die faktore wat die sakeklimaat negatief beïnvloed, aan te pak. Maar met soveel onsekerhede en ’n gekaapte staatsbestel is die kans ongelukkig goed dat kapitaalintensiteit binne die afsienbare toekoms tot 18% of minder sal daal, wat beswaarlik ekonomiese groei van hoër as 2,5% tot 3% sal kan ondersteun. 

  •  Christo Lüus van Third Circle Batebestuur is ’n vorige wenner van Sakese Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.