Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kganyago: G’n deflasie, g’n kwantitatiewe verruiming
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Getty Images

“Ek is nie bewus van enige professionele ontleder wat verwag dat daar deflasie in Suid-Afrika sal wees nie,” het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Woensdag gesê.

En solank daar nie deflasie-risiko’s is nie, sal die Reserwebank nie kwantitatiewe verruiming oorweeg nie.

Kwantitatiewe verruiming, of QE (quantitative easing) is ’n onkonvensionele monetêre beleid waarin ’n sentrale bank langertermynstaatseffekte koop ten einde die geldvoorraad te vergroot en lenings en beleggings aan te moedig.

LEES OOK: Kwantitatiewe verruiming: Speel SA met vuur?

Kganyago het gepraat op ’n aanlyn lesing van die Universiteit van Pretoria en opnuut verduidelik hoekom die Reserwebank nie in QE belang stel nie.

Te midde van talle beroepe op die Reserwebank om die beleërde fiskus met QE te help, was Kganyago weer op die oorlogpad oor die Reserwebank se kritici.

Hy het gekap na kritici wat eers die Reserwebank se beleid van inflasieteikening gebrandmerk het as “eerste wêrelds” en onvanpas in ’n ontwikkelingsland soos Suid-Afrika, en nou skielik wil hê die Reserwebank moet die werklik eerstewêreldse beleid van QE volg.

“Soveel vir die bewering dat ryk lande se beleid nie in ontwikkelingslande werk nie!”

Kganyago sê Suid-Afrika se inflasiekoers is wel laer as gewoonlik, en die Reserwebank het daarop gereageer deur rentekoerse met 3 persentasiepunte te verlaag. As gevolg hiervan, en vanweë die struktuur van die ekonomie, sal inflasie binne die teikenband van 3% tot 6% bly en nie die risiko van deflasie loop nie.

Volgens Kganyago is Suid-Afrika gelukkig in dié opsig dat sy staatskuld hoofsaaklik in langtermynstaatseffekte is.

Die gemiddelde vervaldatum van staatseffekte is oor 12 jaar. Dit beteken daar is baie ruimte vir die staat om homself eerder te finansier deur kortertermyneffekte uit te reik, indien dit nodig sou word.

QE sou as metode om die staatskas te finansier, tot die ineenstorting van die effektemark lei, reken Kganyago.

Beleggers deel tans die risiko van die staat se skuld deur middel van die langtermyneffekte wat hulle hou. As die Reserwebank staatseffekte opkoop, sal dit beteken dat beleggers nie meer die risiko help dra nie.

Ekonomiese groei vereis samewerking. Dit is eenvoudig nie in een instansie se mag om resultate te lewer nie. Dit is ’n spansport.
Lesetja Kganyago

Dit sou neerkom op ’n “reddingsboei vir die private sektor, gereël deur die staat”, sê Kganyago.

Dit sal ook die Reserwebank se balansstaat verrinneweer as hy staatseffekte op so ’n groot skaal hou.

Kganyago het voorheen reeds gesê die Reserwebank sal binne ’n jaar bankrot wees as hy staatseffekte opkoop en “steriliseer” deur dit teen ’n hoër koers her uit te reik.

“Suid-Afrika se ekonomiese groei en werkloosheidsprobleme is groter as monetêre beleid,” sê Kganyago.

Die probleme is struktureel en kan nie weggewens word met net monetêre beleid nie.

“Selfs toe die ekonomie gewoeker het, was die werkloosheidsheidskoers steeds bo 20%. Die probleem is die nalatenskap van bantustans, apartheid-onderrig en die versuim om hierdie probleme reg te stel.

“Ekonomiese groei vereis samewerking. Dit is eenvoudig nie in een instansie se mag om resultate te lewer nie. Dit is ’n spansport.”

Wat is kwantitatiewe verruiming?
Kwantitatiewe verruiming is ’n vorm van onkonvensionele monetêre beleid waarin ’n sentrale bank langtermyneffekte op die ope mark koop om die geldvoorraad van die land te verhoog om die toestaan van lenings, asook investering, aan te moedig.

Hierdie opkoop van effekte word gefinansier deur die skepping van nuwe geld.

Voorheen is nuwe geld gedruk om sulke terugkope te befonds, maar deesdae krediteer die reserwebank bloot die ontvanger se rekening met digitale geld ter waarde van die terugkoop.

Sodoende word die geldvoorraad in die land verhoog en rentekoerse verlaag soos die opbrengs op staatseffekte (’n gewilde belegging) daal weens die aankope deur die Reserwebank.

Meer oor:  Reserwebank  |  Lesetja Kganyago  |  Rentekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.