Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kganyago: Só kan SA rommel keer

Suid-Afrika se kredietgradering is in die hande van Suid-Afrikaanse beleidmakers.

Lesetja Kganyago, president van die Resewerbank. Foto: Elvira Wood

So sê Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Donderdag in ’n onderhoud met Bloomberg Television tydens die jaarvergadering van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank wat in Washington, VSA, gehou word.

“Suid-Afrikaanse beleidmakers weet presies wat geïmplementeer moet word sodat Moody’s nie die land afgradeer nie,” sê hy.

Moody’s Investors Service is die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat nog Suid-Afrika se staatskuld op beleggingsvlak gradeer.

Sy gradering is Baa3 – een vlak bo rommelstatus – met ’n stabiele vooruitsig.

Die kredietgradeerder besluit na verwagting weer op 1 November oor sy kredietgradering vir Suid-Afrika.

Moody’s het reeds die regering gewaarsku dat hy uitgawes moet inperk en dat sy addisionele steun aan Eskom in Julie “krediet-negatief” was.

“As ons die dinge doen wat Moody’s uitwys as rede tot kommer [wat die kredietgradering betref], dan behoort ons nie bekommerd te wees oor ’n afgradering nie,” sê Kganyago.

“Opbrengste op Suid-Afrikaanse staatseffekte behoort laer te wees as wat hulle is as daar na die globale omgewing gekyk word. As ons al die regte dinge doen, dan sal hulle aanpas.”

Hoewel die Reserwebank gewoonlik nie kommentaar oor fiskale beleid lewer nie, het Kganyago en sy monetêre beleidskomitee die afgelope jaar al hoe meer uitgesproke geraak oor die dringende behoefte aan hervorming. Dit kom veral teen die agtergrond van voorstelle dat die rentekoers verlaag moet word om ekonomiese groei te steun.

Kganyago sê die ekonomiese beleidsdokument wat die tesourie in Augustus bekend gestel het, is ’n “welkome ontwikkeling”.

“Ten minste het dit Suid-Afrika in staat gestel om die gesprek te voer oor wat nodig is.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het Donderdag in Pretoria in ’n gesprek met ekonome oor dié plan en die mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê die tesourie het kommentaar van 748 individue en instansies daaroor ontvang.

“Dit is goed dat ons soveel kommentaar daarop gekry het,” sê Mboweni.

Hy sê die tesourie het alles deurgegaan en sal alles oorweeg wat in ooreenstemming met beleid is.

Eskom

Moody’s waarsku lank reeds dat die staat se steun aan Eskom een van die groot veranderlikes kan wees wanneer dit by ’n besluit oor die land se kredietgradering kom.

Eskom het skuld van R450 miljard en maak staat op reddingsboeie van die staat om solvent te bly.

Die kragreus sukkel om die ligte in die land aan te hou en het dié week vir die eerste keer in maande weer beurtkrag moes instel. Ou infrastruktuur wat nie behoorlik in stand gehou word nie, is een van die groot redes hoekom krag nie opgewek kan word nie.

Kganyago sê die Reserwebank kyk watter risiko’s Eskom se onvermoë om elektrisiteit op te wek vir die ekonomie bring met verwysing na groei en stabiliteit.

As Eskom in die huidige lae groeivlakke nie in die vraag na elektrisiteit kan voorsien nie, kan dit selfs meer beperk word wanneer groei versnel, waarsku Kganyago.

Daarom is dit belangrik dat die tesourie se plan ’n fokus daarop plaas om opwekkingskapasiteit te verhoog, sê hy.

Kganyago sê die Reserwebank het reeds navorsing gedoen wat wys dat die manier waarop Eskom se skuld versprei word van so ’n aard is dat dit nie ’n sistemiese risiko vir die finansiële stelsel inhou nie.

fitch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.