Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kinders en armoede: ‘Daar’s ’n T. rex in die vertrek’

Wanneer daar oor armoede en ongelykheid in Suid-Afrika gepraat word, lei die denkpaaie dikwels reguit na die post-koloniale albatros en al sy skuld daaraan. Daardie oorbekende albatros kry volle polities korrekte krediet vir ’n probleem wat hom nie alleen toekom nie.

Johan Gericke, ruimtelike ekonoom.

Die feit is, daar is ’n Tyrannosaurus rex in die kamer. Maar hy bly ongesiens agter ’n blindekol van vrees wat gesonde, liberale vryheid van spraak, denke en uiteindelik selfondersoek onliberaal bevries.

As ons die vraag na die oorsprong van armoede en ongelykheid sou stel aan die hele ontwikkelende wêreld, en spesifiek aan ons eie subkontinent, sal hulle hulle egter nie op Suid-Afrika se albatros kan beroep nie.

Op 1 Mei 1969 het Robert McNamara, toe president van die Wêreldbank, geskryf die grootste enkele hindernis vir die ekonomiese en sosiale vooruitgang van die meerderheid van die mense van die onderontwikkelde (vandag se “ontwikkelende”) wêreld, is ongebreidelde bevolkingsgroei.

Krotbuurte

In 2014 skets UN-Habitat se “State of the World’s Cities” ’n prentjie van groot armoede en groeiende, onwettige, onbeplande, informele krotbuurte in stede oor die ontwikkelende wêreld heen. Die verhouding van mense in krotbuurte het in tien jaar afgeneem, sê UN-Habitat, maar die getal mense in krotbuurte het skerp toegeneem.

Gevolglik groei ongelykheid: 70% van die inkommers beland van meet af aan in ’n krotbuurt, en 70% van hulle kom nie weer daaruit nie. Hulle raak nooit deel van die formele ekonomie nie.

Afrika se 64% is die wêreld se grootste krotbuurt-bevolking. Die ooreenstemmende syfer vir Suid-Afrika is 30%; naas Zimbabwe, Namibië en Marokko, die laagste op die vasteland.

In 1930 was die wêreldbevolking beswaarlik 2 miljard. Vandag is dit 7,63 miljard. In 1960 het Afrika 10,3% van die wêreldbevolking gehuisves. Die aanwas is met saamgestelde rente onderweg tot 26% in 2050.

  

  

Teen 2015 kan die probleme van Afrika suid van die Sahara in een syfer vervat word: 68% – die hoogste voorkoms van armoede in die wêreld gemeet aan die internasionale armoededrempel van $3,10 ’n dag, en vordering is traag.

Suid-Afrika staan op 38% – amper die helfte daarvan, dog hoër as in 2010, en drie keer hoër as die 13% van Latyns-Amerika.

Sistemiese armoede

Daar is konsensus dat gelyklopende hoë bevolkingsaanwas en verstedelikingskoerse haas onmoontlike eise stel aan beplanners, beleidsmakers en belastingbetalers.

Daar is ’n verband tussen bevolkingsgroei en armoede.

Dit is wat die Peruaans-Amerikaanse ekonoom John Betancourt in 2007 waarskynlik bedoel het toe hy geskryf het dat geen ontwikkelende land oor die hulpbronne beskik om ’n impak op krotbuurtes te maak nie.

Bevolkingsgroei blyk die Wêreldgesondheidsorganisasie se probleem te wees. Dis immers veilig om Albert Schweitzer en die mediese wetenskap vir die verlengde lewensverwagting te blameer.

Daar is konsensus dat die getal kinders per werkende bevolking ’n primêre bron van sistemiese armoede en ongelykheid is. In 1960 was hierdie speelveld nog gelyk. Toe was die verskil tussen die meeste lande, uitgesluit die Weste met sy hoë inkomste, gemiddeld sowat 0,7 geboortes per vrou.

In 1967 is beraam dat elke rand wat bestee word aan gesinsbeplanning R70 aan openbare besteding spaar. Meer onlangs beraam ’n paneel van internasionale kundiges dat dit R120 werd is. Hulle beweer selfs dat ’n 5%-toename in geboortebeperking in ’n klein landjie in Afrika suid van die Sahara tot ’n 35%-toename in die BBP kan lei.

Mercedes of kind?

Vandag kan jy ’n kind grootmaak of jy kan ’n duur Mercedes koop, sê The Times of India (2 Feb. 2018). Dit kos ’n middel-inkomste-huishouding in Suid-Afrika R7 500 per maand om ’n kind groot te maak. Wat bly oor ná die huis en die skuld? Wie staan pa waar huishoudelike hulpbronne te kort skiet?

Sowat 25 jaar gelede het Suid-Korea hom gewend tot die hefboom wat gesinsbeplanning bied. Vrugbaarheidskoerse het in dié tyd dramaties gedaal van ses geboortes per vrou tot 1,7 vandag. Vandag is Suid-Korea die 11de grootste ekonomie in die wêreld.

Met ewe vinnige verstedeliking en uitvoergedrewe industrialisasie in ’n tyd toe die Weste graag uitkontrakteer het vir goedkoper arbeid, het hulle ’n demografiese dividend geskep. Noem dit Radikale Ekonomiese Transformasie 101.

  

  

Dit het Suid-Afrika 50 jaar gevat om by 2,6 geboortes te kom, en toe verlangsaam die proses. In daardie tyd het Afrika suid van die Sahara by 5,3 uitgekom.

Die Wêreldbank en UN-Habitat bevind dat die T. rex in die slaapkamer grootliks aanspreeklik is vir armoede en ongelykheid in die ontwikkelende wêreld en in Afrika, spesifiek ons deel van Afrika, en niemand kan Suid-Afrika daarvan uitsluit nie.

Ons is deel van hierdie groeperings.

Dit is tyd dat elkeen hand in eie boesem steek en pa staan vir die onbesonne burgerlike onverantwoordelikhede wat individue uit vrye wil en keuse pleeg en dan teen koste op medeburgers of ander lande (soos Suid-Afrika, soos Europa) stort.

  • Johan Gericke is ’n ruimtelike ekonoom.
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Kinders  |  Ongelykheid  |  Bbp  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.