Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kleiner staatsdiens ‘nie die antwoord’ hoor komitee
Sfiso Buthelezi Foto: Deon Raath

Die grootste olifant in die land se kamer is die ekonomie wat nie groei nie, het Sfiso Buthelezi, voorsitter van die nasionale vergadering se staande komitee oor toedelings, Dinsdag gesê.

Maar hy meen die sny van poste in die staatsdiens is nie noodwendig die antwoord nie. Afleggings werk dalk in die private sektor, maar vir die regering beteken dit die mense skuif van produktiewe werk na om tou te staan vir Sassa-toelae. Dit is dan steeds die regering wat vir hulle moet sorg. Buthelezi was ’n vorige adjunkminister van finansies onder oudpres. Jacob Zuma, en is ’n voormalige voorsitter van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).

Dié komitee, asook die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor toedelings is Dinsdag deur die Parlementêre Begrotingskantoor oor die toedelingswetsontwerp van 2019 toegespreek. Dit is ’n nodige stap in die proses om Februarie se begroting in werking te stel.

Prasa gaan die grootste verlaging in toedeling in die 2019 Toedelingswetsontwerp kry. Dit sal met R4,2 miljard of soveel as 51% krimp, het die begrotingskantoor Dinsdag gewaarsku.

Dit kom terwyl die Suid-Afrikaanse passasierspoordienste grootliks lae-inkomste huishoudings bedien. Die verlaging van die toedeling aan Prasa en die oordrag van geld na ander entiteite soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap sal waarskynlik dienslewering aan die armes raak, het dr. Dumisani Jantjies van die begrotingskantoor gewaarsku.

Nelia Orlandi van die begrotingskantoor het verduidelik dit blyk wel dat Prasa ook heelwat geld het wat net daar lê en wat hy nie bestee nie, en die groter prentjie moet in gedagte gehou word. Dis beter as dié geld geskuif word na plekke waar dit wel nuttig gebruik kan word.

Maar parlementslede het gekla dit maak nie sin om geld van “on-getolde” dienste te skuif na ’n diens waarvoor tolgeld gevra word nie.

Gegewe die treurige toestand van die ekonomie is die toedelings eintlik merkwaardig gebalanseerd, sê Yunus Carriem, ANC-parlementslid.

Carriem, voorheen voorsitter van die staande komitee oor finansies en nou ’n lid van die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor toedelings, sê die toedelingskomitees behoort nie stil te bly oor die geldkrisis by die SAUK en ander staatsondernemings nie.

Sassa

Orlandi het daarop gewys dat 99,5% van die begroting van die departement van maatskaplike dienste aan die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) oorgedra word. In totaal word 70% van die totale begroting oorgedra na ander regeringsvlakke of entiteite.

As toesighouers oor nasionale departemente se besteding het die toedelingskomitees tegnies dus eintlik net beheer en toesig oor 30% van die besteding.

Carriem het gevra of dit nie eerder die komitee oor maatskaplike dienste moet wees wat toesig hou oor die reuse-besteding aan welsynstoelae as die toedelingskomitees nie.

Denis Joseph van die DA het gevra of daar nie meer plekke is waar besteding gesny kan word nie, byvoorbeeld meubels en studietoere.

Personeelvergoeding

Dipuo Peters, ’n vorige minister van energie en vervoer en nou ’n lid van die Nasionale Vergadering se staande komitee oor toedelings, sê die gebruik moet gestaak word van departemente om geld wat hulle nog nie weet hoe om te bestee nie onder die hofie personeelvergoeding te parkeer nie.

Orlandi het bevestig dit gebeur elke jaar en sy het genoem van ’n geval waar geld wat vir die vergoeding van personeel geklassifiseer was gebruik is om motorvoertuie aan te koop.

Peters het gewaarsku die geld wat nou na die Gautengse e-tol-dienste oorgedra word is ’n tydelike maatreël wat nie probleme oplos nie.

Meer oor:  Ekonomie  |  Toelaes  |  Staatstoelae  |  Inkomste  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.