Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Klerebedryf hak knoop deur
Alle bedingingsraad-streke het die afgelope jaar ’n groei in poste in die klerebedryf gesien, hoewel die getal poste nog minder is as in 2011. Die groot verloorder sedert 2011 is die Wes-Kaapse bedryf.

Die klerevervaardigingsbedryf het in die jaar tot einde Augustus 7% meer poste geskep.

Byna 4 000 meer mense as ’n jaar gelede het einde Augustus in die bedryf gewerk, toon syfers wat die na­sionale bedingingsraad vir die klerevervaardigingsbedryf Dinsdag op sy jaarvergadering gewys het.

Einde Augustus het sowat 56 535 mense by werkgewers wat by dié bedingingsraad geregistreer is, in die bedryf gewerk. Dis die meeste sedert 2011.

Marthie Raphael, voorsitter van die bedingingsraad, sê die bedryf ervaar steeds ekonomiese druk, maar stygende lone in China en die swak rand begin plaaslike klereproduksie bevoordeel.

Volgens Johann Baard, uitvoerende direkteur van die vereniging vir maatskappye in die bedryf, Ap­parel Manufacturers of South Africa (Amsa), is dit die eerste keer in jare dat ’n werklike groei in poste gesien word.

André Kriel, hoofsekretaris van die klerewerkersvakbond Sactwu, sê niegepubliseerde syfers van Statistieke Suid-Afrika vir die jaar tot einde Junie wys poste het met sowat 2,7% tot 88 657 toegeneem as tekstiel-, leer- en skoenvervaardigers ingesluit word.

Etienne Vlok, ’n senior navorser van Sactwu, sê hoewel dit nie baie klink nie, moet in ag geneem word dat die ekonomie wankel en die res van die vervaardigingsbedryf sukkel. “In die middel 2000’s het die bedryf tussen 10 000 en 15 000 poste per jaar verloor. Die ommeswaai is belangrik en ’n verdere teken dat die bedryf stabiliseer.”

Kriel skryf die ommekeer deels daaraan toe dat die regering invoertariewe op klere in 2009 verhoog het. Invoertariewe is ná 1994 wesenlik verlaag en dit het die werkverliese aan die gang gesit.

Die departement van handel en nywerheid het die afgelope sowat vyf jaar ­R3,3 miljard aan die bedryf verskaf en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) het R2,1 miljard in alle subsektore belê.

Ons sien kostedruk in China. Daar styg lone in die kusstreke met tussen 20% en 30% per jaar.

Dineo Skwambane, hoof van die NOK se strategiese sake-eenheid vir die tekstiel- en klerebedryf, sê dié hulp het die afgelope vyf jaar 14 000 poste geskep.

Die ondersteuningsmaatreëls het die bedryf toegang tot kontant gegee om te herkapitaliseer en broodnodige nuwe masjinerie te koop, sê Baard.

“Produktiwiteit verbeter, asook mededingendheid en gehalte.”

“Ons sien kostedruk in China. Daar styg lone in die kusstreke met tussen 20% en 30% per jaar.

“Hoewel dit van ’n lae grondslag is, is hulle nie meer so mededingend soos wat hulle was nie.”

Die wisselkoers het die Suid-Afrikaanse bedryf ook gehelp om mededingend te wees, sê Baard.

Nog ’n rede vir die verbetering is ’n sakemodel vir kleinhandel wat internasionale reuse soos Zara en H&M die afgelope drie jaar aanvaar het om spoediger te reageer op modeneigings. “Dit kan net suksesvol ingestel word as jy ’n plaaslike verskaffingsketting het.”

Meer oor:  Sactwu  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.