Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nuwe minimum loon dalk nié op 1 Mei ingestel
Mnr. Thembinkosi Mkalipi, 'n direkteur by die departement van arbeid. Foto: Albi Fouche

Die departement van arbeid het werkers en vakbonde in voorleggings oor die nasionale minimum loon gewaarsku dat “daar geen waarborg is” dat die sperdatum van 1 Mei gehaal sal word nie.

Thembinkosi Mkalipi, hoofdirekteur van arbeidsverhoudinge, sê die departement het die Wetsontwerp oor die Nasionale Minimum Loon middel November in die parlement ter tafel gelê.

Dit is ingevolge ’n spesiale reël gedoen wat voorsiening maak vir ’n gesamentlike wetgewende proses deur die arbeidskomitees van onderskeidelik die nasionale vergadering (NV) en die nasionale raad van provinsies (NRP), sodat die proses vinniger afgehandel kan word.

Art. 195 van die gesamentlike reëls van die parlement en art. 159 van die NV se reëls maak voorsiening vir ’n gesamentlike proses om die wetgewende proses en openbare konsultasies vinniger te doen deur die burokratiese prosesse te verminder.

Wetsontwerpe neem normaalweg gemiddeld ’n jaar om deur die proses te gaan. Om eerlik te wees, begin Mei se sperdatum is uiters knap.
Matthew Parks van Cosatu

Mkalipi sê hy hoop dat die sperdatum gehaal kan word, maar dit sal moeilik wees. “Die parlementêre program word nie deur ons beheer nie.”

Matthew Parks, Cosatu se parlementêre beampte, sê dit is die eerste keer sedert die koms van demokrasie dat dié proses ingespan word. “Wetsontwerpe neem normaalweg gemiddeld ’n jaar om deur die proses te gaan. Om eerlik te wees, begin Mei se sperdatum is uiters knap.”

Die kabinet het op 1 November die Wetsontwerp oor die Nasionale Minimum Loon goedgekeur nadat die regering, die sakesektor, arbeid en gemeenskapsverteenwoordigers in Februarie by Nedlac ’n ooreenkoms bereik het.

Die wetsontwerp stel ’n verpligte minimum loon van R20 per uur bekend met die uitsondering van plaaswerkers, huishulpe en leerlingskappe.

Die parlement verdaag op 15 Desember vir vakansie en is ook in die Paastyd in reses, wat sowat vier maande laat om die wetsproses te voltooi én die president om dit te onderteken voor die sperdatum.

Ons wil soveel moontlik eensgesindheid hê, ons wil nie ’n klugspel hiervan maak nie
Thembinkosi Mkalipi van die departement van arbeid

Mkalipi sê die proses kan nie oorhaastig gedoen word nie omdat dit kan lei tot regsgedinge deur werkgewers of werkers wat kan aanvoer die regte proses is nie vir die openbare konsultasiefase gevolg nie.

“Ons wil soveel moontlik eensgesindheid hê, ons wil nie ’n klugspel hiervan maak nie.”

Daar is ’n paar kwessies waaroor arbeid, die regering en die sakesektor nie kon ooreenkom nie wat dinge kompliseer. Die verwagting is dat dit deur die parlementêre proses opgelos sal word.

Volgens Parks is die program van uitgebreide openbare werke een van die groot kopsere.

Die kabinet het ’n minimum loon van R11 per uur goedgekeur vir mense wat aan die program deelneem. Die regering sê dit is leerlingskappe waar mense vaardighede aanleer wat hul indiensneembaarheid verhoog.

Cosatu voer aan deelnemers hieraan vervang permanente poste in munisipaliteite omdat hulle goedkoper is.

Daar is reeds kommer dat die R20 per uur nie doeltreffend gaan wees om armoede te bekamp nie gegewe die moeilike ekonomiese tye in die land.

Dr. Gilad Isaacs, die koördineerder van ’n navorsingsinisiatief oor die nasionale minimum loon by die Universiteit van die Witwatersrand, sê die wisselvallige rand gaan ’n uitwerking op die rand se koopkrag hê omdat inflasie wesenlik deur die wisselkoers beïnvloed word.

“Die waarde van die rand het onlangs afgeneem,” sê Isaacs. “Dit gaan ’n inflasionêre impak hê en die prys van petrol en ingevoerde goedere gaan styg, wat beteken die R20 per uur gaan minder werd wees as wat ons verwag het.” – Fin24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.