Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kommer oor 3de kwartaal se groei
Suid-Afrikaners dra swaar aan skuld namate die ekonomie knyp en besteebare inkomste minder word. Foto: Getty Images

Elektroniese finansiële transaksies – ’n vroeë aanduiding van ekonomiese bedrywigheid – was in September die swakste in ’n jaar.

BankservAfrica se indeks van ekonomiese transaksies (Beti) is effens (0,5%) hoër as ’n jaar gelede, maar het wel op ’n kwartaal- en maandgrondslag gedaal, gemeet aan die reële waarde van transaksies.

Die daling van 1,6% tussen Augustus en September is die grootste maanddaling sedert April 2018. Die daling van 2,2% tussen die tweede en derde kwartaal is die grootste sedert Junie 2018.

“Dié beduidende daling is die betroubaarste aanduiding dat die ekonomie dalk weer ingekrimp het,” sê Mike Schüssler van Economists.co.za, wat die indeks saamstel.

“Dit dui ook daarop dat die Suid-Afrikaanse ekonomie geraak word deur swakker wêreldgroei en laer plaaslike vraag in sektore soos motorverkope.”

Die beweging van die Beti, wat onder meer kontantonttrekkings by kitsbanke en elektroniese geldoordragte meet, stem gewoonlik ooreen met die rigting waarin die bruto binnelandse produk (BBP) beweeg.

Suid-Afrika se BBP het in die eerste kwartaal met 3,1% ingekrimp en toe in die tweede kwartaal met 3,1% gegroei.

September se Beti
  • Waarde van transaksies: R876,1 miljard, 1,6% laer as in Augustus. Dis die derde maandelikse daling in ’n ry.
  • Aantal transaksies: 99,2 miljoen, nadat dit twee maande in ’n ry bo 100 miljoen was.
  • Gemiddelde bedrag per transaksie: Styg met 4,2% tot R8 621.
  • Indekspunt: 127,1 punte

Die BBP-syfers vir die derde kwartaal word eers in November uitgereik, maar Schüssler sê die 2,2%-daling van die Beti voorspel niks goeds nie. Daar is nou ’n 70%-risiko van ’n inkrimping, volgens Schüssler.

“Dié jongste ekonomiese data wys dat Tito Mboweni, minister van finansies, minder ruimte sal hê om staatsbesteding te verhoog of voorsiening te maak vir laer belastingkoerse wanneer hy op 30 Oktober sy mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) lewer.

Die MTBR is waar die regering sy bestedingsplanne vir die volgende drie jaar uiteen sit.

Ander ekonomiese aanwysers wat die afgelope week uitgereik is, ondersteun die Beti. Standard Bank se aankoopbestuurdersindeks het vir die vyfde opeenvolgende maand gedaal, terwyl Absa s’n met die meeste in ’n dekade gedaal het.

Aan die ander kant was daar ’n stewige verbetering in sakevertroue in September, volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN). Die SAKKN reken om die waarheid te sê dat die ekonomie sy onderste dal bereik het en van nou af net gaan styg.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.